Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Manie het tweestryd nodig – Pote

’n Tweestryd soos Saterdag s’n in Brisbane teen James O’Connor is wat Manie Libbok nodig het om te bewys hy is bestem vir die hoogste vlak, meen die Bulle-breier, Pote Human.

Manie Libbok, losskakel van die Bulle, word Saterdag in die Suncorp-stadion teen die Wallaby James O’Connor opgeweeg in die Superreeks. Foto: Gallo Images

Dit is onafwendbaar dat ’n losskakel wat skaars 80 kg weeg, meer moet doen om die twyfelaars op hul neuse te laat kyk.

Libbok is haastig en kan ’n bres slaan, maar kan hy sy man staan teen spanne wat hom juis sal teiken omdat daar so min van hom is?

Daar was ook al vrae oor die 22-jarige Humansdorper se taktiese skopwerk.

Human glo Libbok het Saterdagaand op Loftus Versfeld gewys hy hoort in Superrugby toe die Bulle die Highlanders verslaan het.

“Manie het homself regtig bewys en ek is opgewonde om hom weer saam met Embrose (Papier) te sien.

“Veral ook met Burger Odendaal wat terug is aan sy buitekant om hom leiding te gee.”

Libbok het pas ’n tiener geword toe sy direkte teenstander in 2008 op 17-jarige ouderdom die jongste debutant in Superrugby geword het vir die Western Force.

Brad Thorn, die Reds se afrigter, het O’Connor Donderdag op losskakel ingesluit nadat hy van ’n ligte enkelbesering herstel het.

Die Queenslanders het Vrydag so byna die Crusaders in Christchurch ’n opstopper gegee en Thorn glo O’Connor se terugkeer sal die Reds nog meer slaankrag gee.

Human sê hulle weet dié ervare Wallaby sal ’n faktor wees in die Suncorp-stadion.

“Hy is ’n baie goeie speler en is ervare. Vir ons gaan dit weer belangrik wees dat ons voor oorheers en hulle sodoende swak besit gee.”

Daar sal gedurende die wedstryd besluit word wanneer Morné Steyn sy verskyning sal maak as ’n plaasvervanger vir Libbok.

“Morné het goed gedoen toe hy in die tweede helfte (teen die Highlanders) opgekom het en hy het kalmte gebring.

“Ons sal kyk hoe dit Saterdag gaan. Daar sal na gelang van hoe die wedstryd uitdraai, ’n besluit daaroor geneem word.”

Die Reds se skopwerk pale toe is tot dusver die seisoen treurig, maar die Bulle moet steeds nie die noodlot tart met swak dissipline nie. Daardie aspek van die Australiërs se spel kan dalk net teen hulle beter wees.

Human het juis gesê hy verwag ’n beter skopvertoning van die Reds as verlede Vrydag teen die Crusaders, toe hulle vier stelskoppe verbrou het.

“Ons dissipline was beter Saterdag. Ons het agt strafskoppe afgestaan, maar dit kan nog beter.

“Daar is nog te veel onnodige foute op die onkantlyn en ons wil hulle nie momentum gee nie,” het Human gesê.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Pote Human  |  Reds  |  Bulle  |  Superrugby  |  Manie Libbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.