Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Marx ‘hartseer’ oor Akker nie gaan speel

Die appelswaaiery verlede naweek in Durban het Suid-Afrikaanse rugby ontneem van een van sy voorslag- individuele stryde.

Malcolm Marx en sy Leeus hoop om Vrydag oor die Haaie te stoomroller op Ellispark. Foto: Gallo Images

Om Malcolm Marx teen Akker van der Merwe te sien, sou inderdaad ’n hoogtepunt van Vrydagaand se Superstryd tussen die Leeus en die Haaie op Ellispark gewees het.

Maar nou kom daar dadels van nadat die Haaie se “verwoede vlakvark” geskors is ná sy onderonsie met die Bulle se Schalk Brits.

“Ek is eintlik hartseer dat ons nie gaan kragte meet nie,” het Marx vandeesweek gesê nadat hy gevra is of hy “glad” of “sad” is dat daar nou niks van hierdie liplekker-tweestryd met sy eertydse spanmaat gaan kom nie.

“Ek sou graag teen Akker wou speel, want ek streef daarna om myself teen van die bestes in ons posisie te meet. Akker is beslis een van die beste hakers in die land en dit is vir my altyd ’n bron van motivering om teen só ’n goeie speler te staan te kom,” het die Leeus se kaptein gesê.

Tog wil Marx nie laat deurskemer dat hy nou ’n veel makliker tyd gaan hê net omdat hy teen ’n veel groener teenstander (Kerron van Vuuren) te staan kom wanneer ervaring ter sprake is nie.

Die afrigter, Swys de Bruin, lees ook niks in die wyse waarop die Haaie in daardie laaste skrum deur die Bulle verniel is en dit hulle die wedstryd gekos het toe Handré Pollard nie die beslissende strafdoel kon behaal nie.

Akker van der Merwe sal vanweë sy skorsing nie sy voormalige spanmaats die stryd kan aansê nie. Foto: Gallo Images

“Nee wat, dit beteken nie dat ons hulle in die skrums sal kan teiken nie. Trouens, hulle sal vandeesweek baie hard daaraan werk om daardie afdeling van hul spel op te knap en dit gaan van hulle gevaarlike teenstanders maak,” sê De Bruin.

“Ons het self teen die Rebels in daardie laaste minuut met ’n sterk skrum ’n strafdoel afgedwing waarmee ons kon wen. Kry jy dit reg, beteken dit nie dit is ’n swakplek by die teenstander nie.

“Die Haaie gaan bitter hard kom vir ons voorlangs,” sê De Bruin.

Marx het die eerste keer in etlike maande weer ’n eertydse KES-spanmaat vanuit sy skooldae, Cyle Brink, saam met hom in die agttal. Die derde lid van die drie Musketiers uit daardie skool, die loskopstut Dylan Smith, is egter weer langs die kantlyn.

Die Leeus se kaptein beskryf Brink as iemand wat nie veel praat nie, maar wel dít wat hy te sê het op die veld doen. Hy beskou hom as ’n sterk baldraer, wat veral in die verwagte fisieke kragmeting met die Haaie van groot waarde sal wees.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Haaie  |  Leeus  |  Superrugby  |  Malcolm Marx  |  Akker Van Der Merwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.