Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Matfield: Leeus se skuif sal Bulle laat gis

Die besluit om die Springbok-slot Franco Mostert op flank te kies vir die stryd teen die Bulle, is ’n slim skuif van Swys de Bruin, sê die oud-Springbok-slot Victor Matfield.

Franco Mostert, wat Saterdag op flank uitdraf teen die Bulle, sal die Leeus ’n vierde opsie in die lynstane gee. Foto: Gallo Images

“Franco se werkverrigting is ongelooflik en hy hardloop in elk geval die veld vol soos ’n losvoorspeler.”

Matfield, wat die Bulle in 148 Superrugby-wedstryde verteenwoordig het, was verlede jaar die Leeus se voorspeler-breier in die Curriebeker-kompetisie.

Hy sê die Bulle sou nie verwag het dat Mostert langs die kant van die skrum gaan sak in dié spanne se Superrugby-ontmoeting Saterdag op Loftus Versfeld nie.

“Dit bied die Leeus ’n vierde opsie in die lynstane. Hulle was in hul eerste wedstryd teen die Haaie onder druk in die afdeling en ek glo die idee is om die Bulle aan die raai te hou.”

Matfield, wat die Bulle aangevoer het toe hulle die Supertitel in 2007, 2009 en 2010 verower het, sê met soveel goeie slotte in Suid-Afrikaanse rugby kan die proefneming Mostert “se loopbaan dalk ’n tweede asem gee”.

Hy is terselfdertyd opgewonde oor die Bulle-slotpaar, Lood de Jager en RG Snyman, se vertonings teen die Hurricanes.

“Ek het so ’n bietjie met RG gewerk (toe Matfield nog by die Bulle was) en jy kon toe reeds sien hy het alles om ’n topslot te word.

“Hy het Saterdag soos ’n jong Bakkies rondgehardloop en was baie fisiek. Almal het verlede jaar gesê Lood gaan deur ’n insinking, maar ek dink hy het bloot te min Superrugby gespeel.

“RG en Lood kan in ’n baie goeie kombinasie ontwikkel, maar moenie van Jason Jenkins en Ruben van Heerden vergeet nie.

“Die Bulle is in ’n goeie posisie met die slotte wat hulle by Loftus het.”

RG Snyman op een van sy stormlopies teen die Hurricanes. Foto: Gallo Images

Matfield sê hy sal graag wil sien dat die Bulle Saterdag gereelder om die Leeus se besit in die lynstane meeding.

Die tuisspan se groot toets sal in die skrums kom, sê hy.

“Die Leeus het ’n ervare voorry en iemand soos Jacques van Rooyen kan enige dag toetsrugby speel.

“Ek was baie beïndruk met die Bulle se skrumwerk teen die Hurricanes, maar Saterdag gaan ’n ander storie wees.

“Die Bulle se voorry (Pierre Schoeman, Jaco Visagie, Frans van Wyk) is almal jong ouens wat nog nie baie ervare is in Superrugby nie.

“Gary (Botha) werk hard met hulle en met Pote Human ook daar, glo ek die Bulle sal sterk meeding.”

John Mitchell, die Bulle se hoofafrigter, kan self ’n verrassing of twee hê wanneer hy Donderdag sy span aanwys.

Jenkins het herstel van sy skouerbesering en kan dalk – soos Mostert – in die nr. 7-trui oorweeg word, terwyl Mitchell ’n groot aanhanger is van die Blitsbok Tim Agaba, vanweë sy vaardighede en vaart.

Dit sal wel ’n moeilike besluit wees om die agtsteman Hanro Liebenberg ná sy sterk vertoning teen die Hurricanes uit die beginspan te laat om vir Agaba plek te maak.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Leeus  |  Victor Matfield  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.