Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Dis waarom Jaguares nou brul, sê Matfield

’n Terugkeer na die tradisionele sterk punte van Argentynse rugby en ’n grootskaalse regrukpoging wat hul dissipline betref, is volgens Victor Matfield van die vernaamste redes vir die Jaguares se skielike vooruitgang in die Superrugby-reeks.

Die Jaguares se Bautista Delguy word deur JT Jackson gelak in dié spanne se ontmoeting in Buenos Aires. Foto: Getty Images

Matfield, wat die Bokke in sewe toetse teen die Pumas verteenwoordig het, glo die Jaguares dwing nou respek by teenstanders af.

Die Haaie, wat Vrydag teen die Argentyne in Buenos Aires speel, sal dus op hul beste moet wees as hulle met ’n sege wil terugkeer na Suid-Afrika.

Nadat die Jaguares gesukkel het in hul eerste twee jare in die Superrugby-reeks, is hulle nou besig om hul voete te vind. Hulle het nou vyf agtereenvolgende wedstryde gewen, wat vier seges uit vier wedstryde op hul toer in Australasië insluit.

Jy moet hulle dus voorlangs probeer oorheers. As jy dít kan regkry, sal die res van jou wedstrydplan in plek val.
Victor Matfield

“As jy die Argentynse nasionale span met die Jaguares vergelyk, sien jy dit is meestal dieselfde spelers. Hulle is goeie spelers. Hulle het immers die halfeindronde van die vorige Wêreldbekertoernooi gehaal,” het Matfield Dinsdag gesê.

Hy het sy laaste toets, in die uitspeelstryd om die derde plek in 2015 se Wêreldbekertoernooi, teen Argentinië gespeel.

Die Jaguares se dissipline het hulle dikwels in die verlede in die steek gelaat en hulle het ’n magdom strafskoppe en kaarte afgestaan.

Philip van der Walt sal die Haaie Saterdag in Buenos Aires moet help om die Jaguares voorlangs sag te maak. Foto: Gallo Images

“Verlede jaar was hul dissipline swak en dit is nou uitgesorteer. Die ander ding is dat hul vaste fasette, wat vir lank ’n sterk punt van Argentynse rugby was, verlede jaar gesukkel het.

“Hulle het baie strafskoppe by skrums afgestaan. Hulle het nou teruggekeer na daardie sterk punt en hulle skrum weer goed, terwyl hul rolmale ook ’n wapen is.

“Dan is hulle ook ’n span wat baie aggressief is wanneer hulle die afbreekpunte aanval. Hulle is boonop goed op die teenaanval,” verduidelik Matfield.

Hy sê hy sal die Jaguares nog nie met Nieu-Seelandse spanne vergelyk nie, maar dit raak nou net so moeilik om Argentinië toe te reis as wat dit is om in Australië te toer.

Wat moet die Haaie dus doen as hulle met ’n sege na Suid-Afrika wil terugkeer?

“Die Jaguares is baie aggressief by die afbreekpunte en hulle plaas ’n reuse-premie op die vaste fasette en die voordeellyn. Hulle stuur die bal baie selde wyd.

“Jy moet hulle dus voorlangs probeer oorheers. As jy dít kan regkry, sal die res van jou wedstrydplan in plek val,” sê hy.

Die Haaie sal swaar op hul voorspelers moet steun om die oorhand te kry. Die losvoorspelers, Jean-Luc du Preez, Dan du Preez en Philip van der Walt, sal moet verseker hul teenwoordigheid word gevoel.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Haaie  |  Victor Matfield  |  Jaguares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.