Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Leeus 27, Reds 20: ’n Wen is ’n wen, máár?.?.?.
Meer prul as brul in dié lot Leeus
Giftige Green een van net enkele ligpunte

Die ou spreekwoord lui dat daar twee sekerhede in die lewe is: dood en belasting.

Voeg maar vanoggend ’n derde daarby: die Leeus se Klas van 2020 sal nie vanjaar naby aan die Super-titel kom nie.

Dit klink dalk verspot om dit ná net twee weke van Superrugby te sê, maar die Leeus se eerste 160 minute van die seisoen het dit reeds duidelik gemaak dat hulle nie vanjaar die nodige verbeelding, perdekrag of ervaring het om enduit staande te bly nie.

Tyrone Green tuimel gister oor die doellyn vir een van sy twee welverdiende drieë. Foto: Gallo

Gister se tjommel-sege met 27-20 oor ’n sukkelende Reds-span weerspreek dit nie. Enigiemand wat vanoggend ’n lied in die hart het oor die gebeure op Ellispark, kyk hul rugby met meer hart as harsings.

In ’n ontleding van die wedstryd is dit makliker om te begin met die ligpunte. Daar was min.

Die drif en ondernemingsgees van die jong Tyrone Green was ’n ware riem onder die hart. Vir die duur van die wedstryd het hy alles op spoed en met oorgawe gedoen, en twee keer agter die doellyn gaan kuier. Net die kantlyn het hom weerhou van ’n driekuns.

Die veterane Andries Coetzee, Courtnall Skosan en Elton Jantjies het hard probeer om die horlosie terug te draai na die dae toe die Leeus ander spanne van hul voete kon hardloop, en Marnus Schoeman het ook nooit sy trurat gebruik nie. Die jong skrumskakel Morné van den Berg het ook gewys hy is inderdaad energiek genoeg om met ’n jong Faf de Klerk vergelyk te word, soos sy afrigter, Ivan van Rooyen, die afgelope week het. En daar stop die lofgesange ongelukkig.

Die spelers wat buite die boks probeer dink het, is knaend gepypkan deur hul spanmaats se aandrang dat bo-oor ’n teenstander beter is as rondom.

Soveel stampkar-rugby het Ellispark in jare nie gesien nie. So min veld het ’n Leeus-span ook bitter lanklaas gewen.

Dit grens aan tragikomedie dat hulle tot diep in die wedstryd met daardie taktiek volgehou het, al het hulle ’n horde balle in kontak vorentoe verloor.

Die slim ouens sal jou daarop wys dat die bal nat was, en dit nie ’n dag vir tierlantyntjies was nie. Die slim ouens sal in die proses ignoreer dat Skosan se drie die regstreekse gevolg was van wyd speel en albei Green se drieë in die hoekies was (die eerste ná ’n slim grondskoppie van Jantjies).

Die Reds het nie die kwaal van verbeeldinglose aanvalle gehad nie. Hul eksperiment met James O’Connor op losskakel was nie ’n rasende sukses nie, maar het ook nie misluk nie. Hy was ’n goeie skakel in ’n agterlyn wat die bal graag deur die hande gestuur het. Was dit nie vir die vleuel Henry Speight se swak hande nie, het Ellispark dalk gisteraand geween.

Die Leeus se grootste probleem was egter in die skrums. ’n Reds-agttal sonder supersterre het vier strafskoppe in die oond afgedwing en die oud-Bok Jannie du Plessis se reputasie saam met sy ego opgefrommel.

Du Plessis – ’n man wat al All Blacks en Britse Leeus laat huil het, onthou – moes selfs die vernedering beleef van stom gedruk word deur ’n 20-jarige melkbaard. Die plaasvervanger-stut Dane Zander is vroeg in die tweede helfte nadergeroep om in ’n propperse drukkoker – in ’n seweman-skrum, in sy eie 22 – teen Du Plessis te sak. Die feit dat hy soos ’n skoolseun lyk, weerspreek die feit dat hy soos ’n ysterman skrum – soos Du Plessis tot sy skok uitgevind het.

  • Punte:

Leeus 27 (17): Drieë: Tyrone Green (2), Marnus Schoeman, Courtnall Skosan. Doelskoppe: Elton Jantjies (2). Strafdoel: Jantjies.

Reds: 20 (13): Drieë: Jock Campbell, Tate McDermott. Doelskoppe: Bryce Hegarty (2). Strafdoele: Hegarty (2).

Meer oor:  Reds  |  Leeus  |  Superrugby  |  2020
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.