Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Messe word geslyp by Nuweland

As die Westelike Provinsie se rugbybase getrou aan hul woord is, is Robbie Fleck, afrigter van die Stormers, se doppie geklink nadat sy span Saterdagaand hul Superrugby-wedstryd teen die Jaguares verloor het.

Jaco Coetzee
Die Stormers-flank Jaco Coetzee word deur die Jaguares se losskakel, Domingo Miotti, vasgevat in Saterdag se Superrugby-wedstryd in Buenos Aires. Foto: Getty Images

Die direksie van die WP, wat oor die toekoms van afrigters besluit, gaan glo vandeesweek vergader met die situasie by die Stormers hoog op die agenda.

Fleck het glo twee ure voor die Stormers se vorige wedstryd teen die Bulle gehoor dat hy daardie wedstryd en die een teen die Jaguares moes wen om aan sy pos vas te klou. Die Stormers het goed vertoon in ’n sege van 24-23 oor die Bulle op Nuweland, maar in die nederlaag van 25-30 teen die Jaguares is die Kapenaars weer eens deur hul foute gekelder.

Ander posisies wat onder die loep geneem kan word, is dié van Paul Feeney en Paul Zacks – onderskeidelik afrigter van vaardighede by die Stormers en uitvoerende hoof van die WP Rugbyunie.

Die Stormers tel ondanks Saterdag se nederlaag steeds onder die aanspraakmakers in vanjaar se reeks, maar ken eenvoudig nie die pad doellyn toe nie.

Tot en met Seabelo Senatla se drie vyf minute voor die einde, is die Stormers telkemale deur hul eie foute gekelder.

Hulle het op Jean-Luc du Plessis en Damian Willemse se skopstewels staatgemaak om in die wedstryd te bly, maar het van die vierde minuut ná Pablo Matera se drie vir Jaguares tot die laaste inhaalrugby gespeel.

Robbie Fleck
Robbie Fleck (links), afrigter van die Stormers, en die Nieu-Seelander wat die span met hul vaardighede help, Paul Feeney, kan dalk die trekpas by die Kaapse Superrugby-span kry. Foto: Gallo Images

Daar was in bykomende tyd van die tweede helfte ’n geleentheid om die wedstryd te wen met ’n lynstaan naby aan die Jaguares se doellyn, maar die Argentyne het die Stormers se ingooi gesteel en die bal uitgeskop.

John Dobson
John Dobson is reeds aangestel om die Stormers van aanstaande jaar af te brei, maar dalk neem hy al vandeesmaand die leisels. Foto: Gallo Images

Vir die Stormers was die statistieke verdoemend. Hulle het 20 keer omkeerbesit afgestaan en vier van hul 13 ingooie by die lynstane verloor. Daardie soort spel plaas enige span op ’n snelweg na sy ondergang.

Dán was daar die onverskoonbare foute – soos byvoorbeeld Justin Phillips wat die bal vlak voor sy eie doellyn mis vang en JJ Engelbrecht wat die bal afklap om ’n strafdrie af te staan en daarmee saam diep in die wedstryd koelkas toe gestuur te word.

Gaaf, die Stormers was sonder ’n handvol senior Springbokke. Siya Kolisi en Frans Malherbe het gerus, Pieter-Steph du Toit was beseer en Damian de Allende op die plaasvervangersbank om die minute wat hy speel in die nasionale belang so min as moontlik te hou.

Paul Zacks
Paul Zacks, die WP Rugbyunie se uitvoerende hoof, wat nie die steun van die meerderheid van die lede van die Kaapse unie se uitvoerende raad geniet nie. Foto: Gallo Images

Die Stormers is ook net vier punte agter die voorlopers in die Suid-Afrikaanse groep – die Bulle en die Haaie. As die uitspeelrondes ná die afgelope naweek gespeel moes word, sou hulle in die kwarteindronde wees vir ’n afspraak met die Crusaders in Christchurch.

Wat die WP se direksie egter gaan moet deurtrap, is of dit die moeite werd is om Fleck in sy pos te hou, en of dit dalk nie beter sal wees om die man wat reeds vir aanstaande jaar aangestel is, John Dobson, sommer nou al die kans te gee om met die span te werk nie.

Dán is die vraag of die WP kan bekostig om veranderings te maak. Die unie is kniediep in die skuld, maar rugbybase voel ook hulle kan nie bekostig om net hul hande te vou en weg te kyk nie.

* Die Stormers het vandeesweek ’n loslootjie voordat hulle volgende naweek teen die kampioenspan, die Crusaders, op Nuweland speel.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Robbie Fleck  |  Stormers  |  Superrugby  |  Jaguares
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.