Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Middernagkos Leeus se voorland

Hy wou graag hê sy span moes eerder Dinsdagaand na Nieu-Seeland gevlieg het, maar daar was nie genoeg sitplekke beskikbaar op die vlugte soontoe nie, sê Swys de Bruin, die hoofafrigter van die Leeus.

Daarom is hulle dus reeds Maandagaand uit Johannesburg via Sydney na Christchurch, waar hulle Saterdag in die Superrugby-eindstryd teen die kampioen, die Crusaders, te staan sal kom.

Die Leeus staal hul vir koue winderige weer en ’n vyandige atmosfeer in die AMI-stadion in Christchurch, waar die Superrugby-eindstryd Saterdag beslis sal word. Foto: Getty Images

Die Leeus sal Dinsdagaand ongeveer 23:00 (Nieu-Seelandse tyd) in Christchurch aankom en dan is dit reguit bed toe.

Die span sal volgens hom net een oefening hê terwyl hulle daar is.

“Dit is nou ’n geval van minder is beter,” sê De Bruin.

In ’n poging om vlugflouheid teë te werk, sal die Leeus hul tydskedule ook aansienlik aanpas.

Die vlug na Sydney duur ongeveer 12 ure en van daar is dit nog drie ure na Christchurch. Dié stad is ook twee tydsones verder weg as wat Sydney is.

“Ons gaan ons dag met vier ure aanskuif. Ons sal eers elfuur in die oggend opstaan en dan ontbyt eet en ons aandete sal ook eers so 11:00, 11:30 snags geëet word. Die ouens sal so hier teen eenuur in die nag eers gaan slaap. Toe ons in Sydney was, het hierdie stelsel baie goed gewerk,” sê De Bruin.

Ons sal eers elfuur in die oggend opstaan en dan ontbyt eet en ons aandete sal ook eers so 11:00, 11:30 snags geëet word. Die ouens sal so hier teen eenuur in die nag eers gaan slaap. Toe ons in Sydney was, het hierdie stelsel baie goed gewerk
Swys de Bruin

Die verwagte temperatuur wanneer die eindstryd Saterdagaand (Saterdagoggend 09:35, SA tyd) afskop, sal maar ’n baie skrale ses grade Celsius wees, met ’n wind van sowat 20 km/h en selfs reën wat voorspel word.

“Dit is ook ’n stadion wat ná die aardbewing daar so ’n klompie jare gelede meestal uit staalstrukture bestaan en daar is nie betonpaviljoene nie. Daarom waai die wind deur daardie staalstrukture en maak dit sake nog moeiliker op die speelveld.

“Alles en alles is dit ’n wonderlike plek om rugby te gaan speel,” sê De Bruin.

“Hulle ondersteuners sit ook baie naby aan die veld en maak ’n groot lawaai. Ons sal maar net in die oomblik moet bly en slim moet speel. Die leiding op die veld gaan baie belangrik wees, maar gelukkig het ons in Warren Whiteley die beste kaptein in wêreldrugby,” reken De Bruin.

Hy sê al is die Crusaders die oorweldigende gunstelinge, “is hulle ook maar net vlees en bloed. Hulle kan ook ontsenu word en dan in hulself begin twyfel. Niks sal onmoontlik wees as ons net in onsself bly glo nie.”

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Christchurch  |  Leeus  |  Crusaders  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.