Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Mitchell rustig oor stryd teen ’Canes

John Mitchell sê met oortuiging hy lê nie wakker oor die moontlike sielkundige letsels waarmee sy Bulle die Superrugby-reeks aandurf nie.

Thembelani Bholi kan Saterdag op Loftus Versfeld sy Bulle-debuut maak in die Superreeks. Foto: Gallo Images

Die Pretoriase span het immers in 2017 al vyf wedstryde teen Nieu-Seelandse teenstand verloor en kom Saterdag op Loftus Versfeld teen die Hurricanes te staan.

Die ’Canes het die Bulle verlede seisoen sonder moeite met 34-20 op Loftus geklop.

“Ek is nie bekommerd oor laasjaar nie. Dit is nie iets wat ek kan beheer nie, maar ons ingesteldheid en benadering sal verskil.

“Ons voorbereiding was deeglik en ek is tevrede met die vordering, maar ons moet steeds baie leer en groei. As dit vinnig gebeur, sal dit goed wees.”

Mitchell verwelkom dit dat die Bulle hul veldtog teen ’n Nieu-Seelandse span begin.

“Dit dwing jou onmiddellik om meer aandag aan al die detail te gee.

“Hulle hou soveel gevaar op die aanval in en kan jou op enige oomblik blootstel. Ek sal graag wil sien dat ons die vermoë het om tot die 80ste minuut mee te ding.

“Die Nieu-Seelandse spanne het sedert 2014 die standaard in die kompetisie gestel en hulle raak net beter.

Die Nieu-Seelandse spanne het sedert 2014 die standaard in die kompetisie gestel en hulle raak net beter.
John Mitchell

“Vir ons gaan dit nie net oor een wedstryd nie, tog is dit belangrik om ’n vertoning te lewer waarop jy kan voortbou.”

Mitchell vat die nuus dat die All Black-losskakel Beauden Barrett straks ’n toeskouer gaan wees op Loftus, met ’n knippie sout.

Barrett het die naweek ’n troue in Nieu-Seeland bygewoon en sou hom eers Maandagaand by die span aangesluit het in Johannesburg.

“Hy het geen speelkans in ons voorseisoen gehad nie en sal waarskynlik van die bank af speel. Dit mag dalk ook wees dat ons besluit dit is een van sy All Black-rusweke,” het die Hurricanes-afrigter, Chris Boyd, aan stuff.co.nz gesê.

“Ek sal nie verras wees as hy iewers ’n rol speel nie. Ek het iewers gelees hy sal 40 minute in hom hê.

John Mitchell, die Bulle se hoofafrigter. Foto: Gallo Images

“Hy is werklik van wêreldgehalte en om eerlik te wees, dit sal goed wees as hy speel. Jy wil hê dat die beste spelers in die kompetisie speel,” het Mitchell in reaksie gesê.

* Die voormalige Pumas-flank Thembelani Bholi kan dalk Saterdag sy Superrugby-debuut vir die Bulle maak.

Mitchell moes besin oor wie die nr. 7-trui gaan dra.

Dit was die oorweging om die slot Jason Jenkins langs die kant van die skrum te kies, maar hy sukkel steeds met ’n skouerbesering.

“Ons nr. 7-flanke het nie genoeg minute op die veld gehad nie.

“Jannes (Kirsten) het glad nie gespeel nie, terwyl Nic (de Jager) en Hendré Stassen meer tyd nodig het. Thembelani het op sy beurt goed gevorder in die voorseisoen.”

Die Bulle se 23-tal is Maandag intern aangewys, het Mitchell bevestig.

Superrugby-bepalings.

Superrugby-uitslae.

Superrugby-puntelyste.

Meer oor:  John Mitchell  |  Pretoria  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.