Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Moeilike toer wag op Stormers in NS

Is hierdie Stormers die ware Jakob of gaan hulle hard terug aarde toe gebring word op hul toer na Nieu-Seeland?

Kieran Read, All Black-kaptein, se vaardighede met die bal in die hand sowel as sy puik lynstaanspel kan vir die Stormers hoofbrekens besorg in Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Crusaders in Christchurch. Foto: Gallo Images

Dis met dié tergende vraag dat die Kapenaars Sondag op die vliegtuig geklim het vir ’n uitmergelende Superrugby-ekskursie in Nieu-Seeland, waar hulle teen die Crusaders, Highlanders en Hurricanes gaan speel.

Beroepswedders meen die Hurricanes is ’n kortkop voor die Crusaders die gunsteling om die reeks te wen, terwyl die Highlanders se kans ook beter as dié van die Stormers gereken word.

Die Stormers was nie swak in die afgelope naweek se nederlaag van 16-29 teen die Leeus op Nuweland nie, maar van hul tekortkominge is wel ontbloot.

Hul vlerke is vir die eerste keer vanjaar op die aanval geknip, terwyl dinge ook nie klopdisselboom in die vaste fasette verloop het nie.

Een van die Stormers se groot kopsere is die lynstane, waar hulle gemiddeld slegs 81% van hul ingooie terugwen. Dit dui op ’n kortsluiting tussen die haker Bongi Mbonambi en die Stormers se Springbok-slotte, Eben Etzebeth en Pieter-Steph du Toit.

Vir Mbonambi gaan dit ook nie makliker raak met sy ingooiwerk nie, want die Crusaders spog met All Black-slotte in Luke Romano en Sam Whitelock. Kieran Read, die All Black-kaptein en self ’n yster in die lynstane tesame met sy puik spel op die aanval en verdediging – se terugkeer teen die Sunwolves verlede naweek is ook net mooi betyds om die Stormers se lewe te versuur.

Aaron Smith, seker die wêreld se voorste skrumskakel, wag op die Stormers in aanstaande week se Superrugby-wedstryd teen die Highlanders in Dunedin. Foto: Getty Images

Die Stormers se skrumwerk behoort in die aanloop tot dié wedstryd teen die Crusaders ook aandag te kry. Terwyl die Kaapse franchise op eie invoer saam met die Haaie en Highlanders as die betroubaarste skrumpak in die reeks gereken word, het hulle in daardie faset ook nou en dan teen die Leeus kleigetrap.

Die Stormers het ’n buitekans in Christchurch, maar dit sal ’n yslike poging verg om vandeesweek ’n tweede opeenvolgende nederlaag af te weer.

Daar behoort meer optimisme te wees oor die Stormers se wenkans aanstaande week teen die Highlanders in Dunedin. Die Highlanders is geensins ’n swak span nie, maar drie nederlae uit sewe wedstryde dui daarop dat hulle nog nie hul ritme gevind het nie.

Nietemin is dít ook seker net ’n kwessie van tyd. Daar is moontlik nie ’n beter skrumskakel as Aaron Smith nie en Ben Smith tel onder die wêreld se voorste heelagters.

Onder die ander gevaarmanne is die vleuel Patrick Osborne en die All Black-senter Malakai Fekitoa.

Die wedstryd wat die Stormers se verdediging seker die meeste gaan toets, is die laaste een op toer teen die Hurricanes in Wellington.

Daar is nie ’n gevaarliker losskakel in wêreldrugby as Beauden Barrett nie. Hy sal die Hurricanes se nr. 10-trui dra op 5 Mei vir hul kragmeting met die Stormers. Foto: Getty Images

Die Barrett-broers, Beauden en Jordie, asook die Saveas, Julian en Ardie, wag onder meer op die Stormers.

Teen daardie tyd sal die All Black-haker Dane Coles, wie se spelskeppende vermoëns met die bal in die hand ’n mens aan Schalk Brits in sy fleur laat dink, dalk ook weer fiks wees.

Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, se ingesteldheid teenoor die vooruitsig van die Nieu-Seelandse teenstanders is uit die staanspoor positief.

Dit het die Stormers met die aanbreek van die kwarteindronde in 2016 geen gunste gedoen dat hulle nie in die ligafase enige Kiwi-teenstand gehad het nie.

Oor die volgende drie weke gaan sy span genadeloos getoets word. Selfs al wen die Stormers slegs een wedstryd en is hulle mededingend in die ander, sal dit allermins as die einde van die wêreld beskou word.

Dit gaan ’n groot fisieke en sielkundige toets wees om bloot by daardie punt uit te kom.

Superrugby-bepalings

Superrugby-uitslae

Superrugby-puntelyste

Meer oor:  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.