Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Mosie van vertroue in Willemse

Tim Swiel se foutlose stelskopwerk teen die Pumas verlede naweek was nie genoeg om John Dobson, die Stormers se afrigter, te laat besluit om hom bo Damian Willemse in die span te hou vir Saterdag se Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Bulle op Loftus Versfeld nie.

Damian Willemse gaan terugkeer as die Stormers se losskakel vir Saterdag se Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Bulle op Loftus. Foto: Gallo Images

Dobson kondig Donderdagmiddag eers sy span aan, maar Netwerk24 het betroubaar verneem dat Willemse op losskakel sal begin.

Ofskoon sy talent nie in twyfel getrek word nie, was sy spelpeil flou in die Springbokke se Groen- en Goud-wedstryd op Nuweland en het ’n maklike skop wat hy verbrou het vir die Stormers groot angs geskep in die doodsnikke van hul wedstryd teen die Leeus. Daarna moes die Stormers verbete vasklou om met 23-17 te wen.

Willemse het in laasgenoemde wedstryd ’n ligte besering opgedoen, wat vir Swiel ’n kans gegee het om sy stempel af te druk in Mbombela.

Swiel het hom skaflik van sy taak gekwyt, maar Dobson meen nie die tyd het aangebreek om ’n nuwe koers in te slaan nie.

Elders gaan Jaco Coetzee na verwagting as oopkantflank begin ná beserings aan sowel Siya Kolisi as die man wat hom oorspronklik sou vervang het, Nama Xaba.

JD Schickerling se puik vertoning van die plaasvervangersbank af teen die Pumas sal hom waarskynlik weer as Salmaan Moerat se slotmaat laat aantree nadat Chris van Zyl in Mbombela begin het.

Steven Kitshoff en Scarra Ntubeni gaan waarskynlik ook na die Stormers se 23-tal terugkeer – onderskeidelik as loskopstut en plaasvervangerhaker – nadat hulle die Pumas-stryd misgeloop het. Hulle was in afsondering ná kontak die vorige naweek met ’n speler van die Leeus wat die koronavirus opgedoen het.

Swiel het hom skaflik van sy taak gekwyt, maar Dobson meen nie die tyd het aangebreek om ’n nuwe koers in te slaan nie.

Kitshoff behoort ook die span aan te voer.

• Die Stormers sal intussen die spook van die nederlaag van 3-40 teen die Bulle op Loftus verlede jaar wil verjaag. Dit is ’n skandvlek, wat 20 maande later steeds as motivering behoort te dien.

Dit was nie in die liga van die “Nokia 7514” nie – die foon wat kwansuis uitgereik sou word ter herdenking van die Stormers se nederlaag van 14-75 in Pretoria in 2005 – maar erg genoeg om vir die afsienbare toekoms in die geheue van Kapenaars voort te leef.

Ter verdediging van die Stormers, was die vraag altyd hoe groot verlede jaar se loesing sou wees nadat die afskop vertraag moes word omdat hul spanbus in verkeer vasgesit het. ’n Vragmotor het op die snelweg omgeslaan.

Hulle het 20 minute voor die afskop eers by Loftus Versfeld aangekom, kon geen van hul gebruiklike opwarmingsoefeninge doen nie en kon skaars hul litte loskry. Met hul aankoms is hulle reeds gewaarsku dat die wedstryd op die rand daarvan was om prysgegee te word.

Die Stormers het die skaal van die ontwrigting ná die wedstryd onderbeklemtoon eerder as om verskonings te maak, want die Bulle was só klinies dat niemand sou ontken dat hulle in elk geval sou gewen het nie.

Maar die les is waarskynlik geleer dat as jy in Pretoria gaan speel, jou hotel liefs nie in Johannesburg moet wees nie. ’n Verkeersopeenhoping tussen daardie stede is só gewaarborg soos die dood en tenderbedrog.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.