Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
’n All Black-storm op Nuweland

Om die som te maak dat die Stormers die Highlanders behoort te klop omdat hulle teen die Crusaders, die kampioenspan, gelykop gespeel het, is ’n naïewe vooraf-beskouing van Saterdag se Superrugby-wedstryd op Nuweland.

Waisake Naholo ken die pad doellyn toe en kan die Stormers groot probleme op Nuweland besorg. Foto: Getty Images

Die vernaamste beroepswedders meen die Stormers is net-net die gunsteling. As jy egter teen ’n span met agterspelers soos Waisake Naholo, Aaron Smith en Rob Thompson te staan kom, kan jy nie hoop om ooit meer as “net-net die gunsteling” te wees nie.

Naholo, die haastige All Black-vleuel wat 105 kg weeg, versterk die span nadat hy nie verlede naweek teen die Leeus gespeel het nie. Hy sal die nr. 14-trui op Nuweland dra.

Hy is weer fiks nadat hy las van ’n kniebesering gehad het. Sy 16 drieë in 26 toetse vir die All Blacks is ’n getuigskrif van hoe gevaarlik hy kan wees.Mark Hammett, ’n hulpafrigter van die Highlanders, het ook daarop gewys dat Naholo ’n man is wat sy weg na die doellyn ken.

Smith is die ander gevaarman wat jy met die slimste planne nie in toom kan hou nie.

Aaron Smith, die generaal agter die Highlanders se oond.Foto: Getty Images

“Aaron gee vir ons baie energie en het een van die beste aangeë in die wêreld. Hy kry ons in die regte gebiede van die veld, sodat ons energie nie getap word nie. Hy’s ’n uiters slim speler en dis waarom hy een van die bestes ter wêreld is,” sê James Lentjes, die Highlanders se oopkantflank.

Van die Stormers verwag hulle nie verrassings nie – die Kiwi’s staal hulle vir ’n aanslag van ’n enorme agttal.

“Die Stormers speel direk en is baie goed in die vaste fasette. Dit was nog altyd die kenmerk van Suid-Afrikaanse rugby. Hulle wil by jou voordeur instorm en soek elke geleentheid om jou fisiek te oorheers,” sê Luke Whitelock, die Highlanders se kaptein.

Daar gaan egter ’n paar waghonde voor daardie deur wees om die Stormers se skrum in toom te hou, sê Hammett.

“Tradisioneel is dit ’n groot deel van die Stormers se aanslag, maar ons is ook trots op hoe ons in daardie faset vaar. Dis ’n bedreiging, maar ons neem kennis daarvan en sien uit na die uitdaging,” sê hy.

Die Highlanders is ook die mees gedissiplineerde span in die reeks. Hulle staan gemiddeld net sewe strafskoppe per wedstryd af – vandaar waarskynlik die frustrasie dat die Suid-Afrikaanse blaser Rasta Rasivhenge hulle verlede week 12 keer teen die Leeus gestraf het.

Wat hoop sal gee, is dat die Highlanders weg van die huis vanjaar nie na hul potensiaal speel nie – hulle het vyf van hul laaste ses wegwedstryde verloor.

Desperaatheid neem egter nou oor, want die uurglas sal aansienlik leër loop vir die span wat Saterdag op Nuweland verloor.

* Stormers: Damian Willemse, Seabelo Senatla, JJ Engelbrecht, Damian de Allende, Dillyn Leyds, Joshua Stander, Herschel Jantjies, Jaco Coetzee, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Cobus Wiese, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Scarra Ntubeni, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Corné Fourie, Wilco Louw, Kobus van Dyk, Sikhumbuzo Notshe, Justin Phillips, Jean-Luc du Plessis, Dan Kriel.

Highlanders: Matt Faddes, Waisake Naholo, Rob Thompson, Sio Tomkinson, Jordan Hyland, Josh Ioane, Aaron Smith, Elliot Dixon, Luke Whitelock (k), James Lentjes, Tom Franklin, Pari Pari Parkinson, Tyrel Lomax, Liam Coltman, Daniel Lienert-Brown. PLAASVERVANGERS: Ash Dixon, Ayden Johnstone, Siate Tokolahi, Josh Dickson, Shannon Frizell, Kayne Hammington, Marty Banks, Thomas Umaga-Jensen.

Skeidsregter: Nic Berry (Australië).

Assistent-skeidsregters: AJ Jacobs en Divan Uys (albei Suid-Afrika).

TV-skeidsregter: Willie Vos (Suid-Afrika).

Afskop: 15:05 (SS 1, M-Net).

Meer oor:  Superreeks  |  Stormers  |  Nuweland  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.