Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Jan Serfontein brand om te speel

Die begaafde Jan Serfontein bly een van Suid-Afrikaanse rugby se grootste onbeantwoorde vrae.

Jan Serfontein is lanklaas só in aksie gesien. Foto: Gallo Images

Gaan dié Springbok-senter ooit die belofte van 2012 – toe hy die voorste o.20-rugbyspeler op die planeet was – gestand doen?

Baie ondersteuners onthou met heimwee hoe ’n geniale Serfontein daardie jaar met sy flair en venyn die seëvierende Jong Bokkies se spil in die Junior Wêreldtoernooi was.

Dit was onafwendbaar dat sy opgang spoedig sou wees en hy het die volgende jaar sy Superrugby-buiging in Pretoria gemaak.

’n Mens wonder steeds wat die impak van die Bulle se destydse stampkar-rugby op sy 20-jarige lyf gehad het.

Hy het sedertdien goue oomblikke gehad, maar beserings het Serfontein mettertyd ál meer ’n toeskouer gemaak.

So vertel hy die afgelope week dat hy sedert April verlede jaar elke aand pynpille drink voordat hy bed toe gaan.

Ek brand om weer te speel. Dit was nou lank genoeg.
Jan Serfontein

Serfontein is Vrydagaand vir die eerste keer in byna ’n jaar terug op sy pos in die Bulle se middelveld, wanneer die Sunwolves in die Superreeks op Loftus Versfeld besoek aflê.

Jan Serfontein vandeesweek op die oefenveld. Foto: Gallo Images

“Ek brand om weer te speel. Dit was nou lank genoeg,” sê hy.

Met jong senters soos Rohan Janse van Rensburg en Francois Venter wat intussen op die voorgrond getree het, weet Serfontein harde werk wag.

“Dit is nooit lekker om so lank uit te wees nie.

“Die plan was dat ek reg sou wees wanneer die seisoen begin en toe het ’n nuwe besering kop uitgesteek. Dit is baie frustrerend.

“Ja, dit het ander spelers die geleentheid gegee om hulle te vestig en dit gaan ’n lang pad wees om weer vir die Springbokke in aanmerking te kom.”

Serfontein sê hy vat sy terugkeer een stap op ’n slag.

“Ek wil net eers op die veld kom en vir die Bulle ’n bydrae maak. Ek dink nie op die oomblik verder as dit nie.”

Nollis Marais, die Bulle-breier, sê daar word nie wonderwerke van Serfontein verwag nie.

Hy is ook met voorbedagte rade op buitesenter gekies om eers ’n raps verder weg te wees van die skermutselings in die 12-kanaal.

“Jan kan dalk in die tweede helfte binnesenter toe skuif, as hy so voel. Die idee is dat hy eers op buitesenter ’n kans kry om sy voete te vind.

“Hy is ’n spesiale rugbyspeler en met goeie rede ’n Springbok. Dit is goed om hom terug te hê en ek hoop regtig sy beste rugby kom nog,” sê Marais.

Serfontein sê die begeerte is altyd daar, maar met al die skete het twyfel met tye by hom posgevat.

“Die enigste manier om dit te verdryf, is om te bewys dat jy nog goed genoeg is.”

Dit sal menige Bulle-ondersteuner se hart warm laat klop as Serfontein – soos in 2012 – sy teenstanders al hul hel kan gee.

Superrugby-bepalings

Superrugby-uitslae

Superrugby-puntelyste

Meer oor:  Jan Serfontein  |  Loftus  |  Sunwolves  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.