Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Naas: Handré kan Bok-troef in Japan wees

Handré Pollard, wat in ’n Wêreldbeker-jaar die beste rugby van sy loopbaan speel, is ’n wonderlike voorbode vir Suid-Afrikaanse rugby, sê Naas Botha, legendariese oud-losskakel van die Springbokke.

Die Springbokke se Wêreldbeker-troefkaart? Handré Pollard, kaptein van die Bulle, beïndruk met sy peil in die Superreeks. Foto: Gallo Images

Pollard is sover in die Superreeks uitstekend op dreef vir die Bulle en was Saterdag op Loftus Versfeld meesterlik aan die stuur toe sy span die Haaie met 37 – 14 getroef het.

Die Bok-losskakel, wat op Maandag 11 Maart sy 25ste verjaardag vier, is die voorste puntemaker in die kompetisie.

Dit lyk of Handré vanjaar 100% fiks en gesond is ná al die beserings en jy kan sy rol in die Bulle se welslae tot dusver nie onderskat nie
Naas Botha

Sy 74 punte in vier wedstryde is aansienlik meer as Elton Jantjies (Leeus) en Joaquín Díaz Bonilla (Jaguares) s’n, wat met 36 punte gesamentlik tweede op die lys is.

“Dit lyk of Handré vanjaar 100% fiks en gesond is ná al die beserings en jy kan sy rol in die Bulle se welslae tot dusver nie onderskat nie.

“Daardie twee seisoene wat hy uit was met beserings het sy loopbaan baie ontwrig, maar dit is regtig goed om te sien hoe hy vanjaar speel. Hy het nog altyd ál die talent gehad. Jy het dit al op skoolvlak gesien.”

Botha sê Pollard kan ’n invloedryke rol in die Wêreldbeker-toernooi speel.

“Ons weet dat al die spanne wat nog die Wêreldbeker gewen het, uitstekende losskakels gehad het. Van Grant Fox in 1987 regdeur tot Michael Lynagh, Joel Stransky, Stephen Larkham, Jonny Wilkinson tot Dan Carter.

“Onthou hoe goed Butch James in 2007 was toe ons die Beker gewen het? Hy het waarskynlik daardie jaar die beste rugby van sy loopbaan gespeel.”

Hy sê daar moet egter nog baie gebeur voordat die Bokke in Japan vir die toernooi aankom.

“In 2011 moes die All Blacks op Stephen Donald staatmaak, wat in daardie stadium die vierde beste losskakel in Nieu-Seeland was, om die deurslaggewende strafdoel in die Wêreldbeker-eindstryd te skop.

“Hoewel Handré tans duidelik ons voorste losskakel is, is Suid-Afrikaanse rugby baie bevoorreg om ander spelers soos Elton Jantjies, Robert du Preez en Damian Willemse in die posisie te hê.”

Moet Pollard dan in watte toegedraai word by Loftus?

“Nee, spelers kan in oefeninge ook beserings opdoen en die Bulle wil immers probeer om die Superreeks te wen. Soos Pollard nou speel, gaan dit baie van hom afhang. Jy wil ’n wedstrydwenner soos hy in jou span hê,” sê Botha.

“Pote (Human, die Bulle-breier) het gelukkig ook iemand soos Manie Libbok wat hy kan oorweeg. Ek glo tussen Pote en Handré sal daar ’n balans gevind word tussen nasionale belang en die Bulle se veldtog.”

Meer oor:  Naas Botha  |  Handre Pollard  |  Bulle  |  Superrugby-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.