Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Net 1 Crusader in Span van Reeks

Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, het Dinsdag die oë laat rek toe slegs een speler van die Crusaders sy Superrugby-span van die Reeks gehaal het.

Damian McKenzie is deur Sanzaar as Superrugby se Speler van die Reeks aangewys. Foto: Getty Images

Dié span is suiwer volgens spelers se statistieke oor die loop van die 2018-seisoen saamgestel en wys net hoe misleidend sulke syfers soms kan wees.

Ofskoon die Crusaders die kompetisie van begin tot einde oorheers en die titel die tweede opeenvolgende jaar gewen het, is slegs hul vleuel George Bridge in die uitsoek-vyftiental opgeneem.

Nie een van die Crusaders se gereelde All Blacks, soos Owen Franks, Codie Taylor, Joe Moody, Sam Whitelock, Scott Barrett, Kieran Reid of Ryan Crotty se statistieke was skynbaar goed genoeg om die span te haal nie.

Agterlangs is spelers soos die skitterende losskakel Richie Mo’unga, die puik senter Jack Goodhue en dinamiese heelagter David Havili ook oor die hoof gesien. Spelers van die Highlanders is ook nie as goed genoeg geag vir dié span nie.

Vier Suid-Afrikaners het wel die span gehaal en die Chiefs-losskakel Damian McKenzie is as die Speler van die Reeks aangewys.

Sanzaar verduidelik dat die spankeuses op die “Opta-indeks” geskoei is. “Die Span van die Reeks bevat spelers van 12 spanne en is gegrond op ’n omvattende statistiese indeks, wat elke aksie van elke speler in elke wedstryd in detail monitor,” sê die beheerliggaam in ’n verklaring.

McKenzie is as die Speler van die Reeks aangewys omdat hy 74 verdedigers kon klop en 177 punte opgestapel het.

Suid-Afrika se Lood de Jager het ook die span gehaal. Foto: Getty Images

Opta stel ná elke wedstryd ’n video-ontleding saam van elke keer wat die rugbybal aan geraak is. Elke aksie in die wedstryd kry ’n waarde afhangende van die belangrikheid daarvan. ’n Drie kry meer punte as ’n duikslag, maar ’n speler verloor punte vir ’n verbroude duikslag.

Die punte word dan opgeweeg teen die telling ten tye van die aksie, met hoër punte wat toegeken word as spanne se tellings naby aan mekaar is. Die tyd verstreke in die wedstryd en die veldposisie van die aksie word ook in ag geneem.

Die speler kry dan ’n telling vir die wedstryd ná al sy “aksies” bymekaar getel is. Die telling word ook geweeg teen die gehalte van die opposisie in ’n poging om die telling so regverdig as moontlik te maak.

Volgens dié komplekse indeks het vier Suid-Afrikaners, Steven Kitshoff (loskopstut, Stormers), Malcolm Marx (haker, Leeus), Lood de Jager (slot, Bulle) en Jean-Luc du Preez (flank, Haaie) die span gehaal.

Volgens Opta het Kitshoff die span gehaal oor hy meer stormlope as enige ander stut onderneem het en ook die meeste verdedigers geklop het. Marx se heldedade as baljagter en driedrukker het aan hom die louere besorg, met De Jager wat een van die beste lynstaanrankers in die reeks was.

Du Preez se vermoë om die bal in kontak uit te gee het van hom die beste steelkantflank gemaak.

* Die volledige span is: Israel Folau (Waratahs), Solomon Alaimalo (Chiefs), Anton Lienert-Brown (Chiefs), Michael Little (Sunwolves), George Bridge (Crusaders), Damian McKenzie (Chiefs), TJ Perenara (Hurricanes), Akira Ioane (Blues), Jean-Luc du Preez (Haaie), Pablo Matera (Jaguares), Lood de Jager (Bulle), Brodie Retallick (Chiefs), Taniela Tupou (Reds), Malcolm Marx (Leeus), Steven Kitshoff (Stormers).

Meer oor:  Superrugby  |  Sanzaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.