Die Stormers het by die Springbokke se verdedigingsafrigter, Jacques Nienaber, kers opgesteek voor hul Superrugby-veldtog begin.
Nienaber, wat na verwagting binnekort as Suid-Afrika se hoofafrigter aangestel gaan word, het Dinsdag ’n draai by die Westelike Provinsie se Sentrum vir Uitnemendheid in Bellville gemaak.
Dis ’n besoek wat die Stormers se verdedigingsafrigter, Norman Laker, verwelkom het.
“Ek werk al sedert 2007 saam met Jacques toe ek by die WP se Rugbyinstituut begin het. Maar ja, ons probeer om so nou as moontlik saam te werk. Ek het ook my eie gedagtes, want Superrugby is ’n bietjie anders as toetsrugby,” sê Laker.

Jacques Nienaber. Foto: Gallo Images
Nienaber het ’n merkwaardige verdedigingspatroon vir die Bokke gevestig, waar hulle vinnig na binne toe opskiet en spelskeppers hokslaan. Dikwels laat dit geweldig baie ruimte in die wye kanale, maar die feit dat die Bokke slegs vier drieë afgestaan het in die Wêreldbeker-toernooi, dui op hoe effektief dit is. Die Bokke was ook geweldig aggressief met hul lakwerk en het dikwels dominante duikslae gemaak.
“Dís die moeilike ding vir die teenstander, want dit lyk soos hul ruimte en tog kan min spanne dit benut. Dis iets wat die Bokke fenomenaal goed gedoen het – om ruimte wat eintlik nie daar is nie te verkoop,” sê Laker.
“Die Bokke het ook gebaat by goeie vleuels, het goeie duikslae uitgevoer en die spel geïnterpreteer. En dan was daar ’n agttal met ’n hoë werkverrigting. Dis waarom hulle die ses voorspelers op die plaasvervangersbank gekies het – om seker te maak daardie werklading word gedeel. Die Bokke was fenomenaal.”
Die Stormers kan hulle roem op die kern van die Bokke se agttal, maar Laker brei ’n oorwegende jong agterlyn en wys daarop dat die tempo van Superrugby vinniger as op toetsvlak is.

Norman Laker. Foto: Gallo Images
“Ons speel 16 wedstryde vinnig agtereenvolgens en dit gaan taai wees op die spelers se liggame, maar die Bokke se benadering is iets waarna ons kan kyk. Dit was baie suksesvol vir hulle,” sê Laker.
Die Stormers se eerste wedstryd vanjaar is teen ’n sterbelaaide span van die Hurricanes op 1 Februarie op Nuweland, sal ’n yslike toets op die verdediging wees.
Laker sê die Kapenaars is op koers nadat hulle die afgelope naweek hul voorseisoense voorbereiding met ’n oorwinning van 21-19 oor die Haaie afgesluit het.
“Tot dusver gaan dit goed. Die voorseisoense oefensessies het goed verloop en ons is tevrede,” sê Laker.
“Die wedstryd teen die Hurricanes gaan ’n goeie toets wees om te kyk waar ons staan. Albei spanne sal met die verandering van afrigters vir mekaar onbekend wees. Ons moet nou net op onsself fokus om seker te maak dat ons goed voorbereid vir 1 Februarie is.”