Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Nr. 10 Fleck se nommer-een probleem

Nóg ’n kans vir Josh Stander op losskakel, ’n terugkeer na Jean-Luc du Plessis of ’n klip in die bos met Damian Willemse in die nr. 10-trui?

Damian Willemse se X-faktor kan vir Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, in die versoeking bring om hom op losskakel te kies vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Bulle op Nuweland. Foto: Gallo Images

Dís straks die grootste kwessie waaroor Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, wroeg voor Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Bulle op Nuweland.

Stander is verlede naweek teen die Brumbies op die proef gestel en ’n so-so vertoning gelewer in die Stormers se nederlaag van 17-19.

Sy skopwerk is ’n groot bate, maar hy het ’n betreklik maklike strafdoel verbrou wat aan die Stormers ’n sege kon gegee het.

Jean-Luc du Plessis se skoppe hoeke toe kry die Stormers soms op die voorvoet, maar sy foute kan dalk teen hom begin tel. Foto: Gallo Images

Du Plessis was tot dusver Fleck se voorkeur-losskakel, maar hy ry wipplank wat sy spelpeil betref. Hy doen goeie dinge, veral met sy skoppe hoeke toe, maar begaan dalk te veel foute.

’n Mens moet seker in gedagte hou dat hy van ’n baie groot liesbesering teruggekeer het, maar daar sal vir Fleck nie simpatie daaroor wees nie.

Dis uiteindelik sy keuse om Du Plessis bo die ander kandidate te kies.

Dan is daar Willemse, wat ter wille van sy Springbok-ambisies gereeld op heelagter gekies word. Dís die posisie wat die Bok-breier, Rassie Erasmus, vir hom in gedagte het.

Willemse het verlede jaar wel goed gevaar as die Stormers se losskakel. Soms probeer hy net te hard om dinge te laat gebeur op die aanval, maar van dié drietal is hy die een wat die grootste individuele impak kan maak.

Die verwagting is dat Fleck by Du Plessis sal hou. Dis sy oorspronklike visie waarby hy waarskynlik sal staan en val. Dalk is hy ook bekommerd dat aanhoudende verandering nie vir samespel bevorderlik is nie.

Natuurlik kan die Stormers se taktiek ook ’n rol speel in spankeuses. Gaan hulle dit naby die voorspelers hou of die bal versprei? As dit ’n stryd in die loopgrawe gaan wees, is Stander dalk ’n goeie opsie met sy taktiese skopwerk.

Fleck lig Donderdagmiddag die sluier oor sy besluit.

Selfs al het hy teen die Brumbies ’n kritieke strafdoel verbrou, bly Josh Stander se stewel ’n faktor wat in sy guns sal tel wanneer die Stormers-span gekies word. Foto: Gallo Images

*Intussen is Russell Winter, die Stormers se voorspelerafrigter, ook vandeesweek gepeper met vrae oor die vernedering van 3-40 teen die Bulle in die eerste ronde van vanjaar se reeks.

Die Stormers se bus het in verkeer vasgesit op pad Loftus toe en die spelers kon nie voor afskop deur hul gewoonlike opwarmroetines gaan nie.

Dit was seker ’n faktor in hoe groot die nederlaag was, maar nie die rede dat die Kapenaars verloor het nie.

“Ons kan nie verskonings maak nie. Die Bulle het ons eenvoudig van die park af gespeel. Hulle vertoning was amper foutloos. Hulle het ’n sterk pak voorspelers en ervare agterspelers,” sê Winter.

“Ons gaan minder foute moet begaan en ons besit beter moet beskerm sodat ons ons kanse kan benut.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Stormers  |  Damian Willemse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.