Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Nuwe plan vir Superrugby dán bekend

Steve Tew, uitvoerende hoof van die Nieu-Seelandse Rugbyunie, het Maandag bevestig planne om die Superrugbyreeks te vernuwe sal in November gefinaliseer word.

Die toekoms van die Superrugbyreeks sal glo in November bekend gemaak word. Foto: Gallo Images

Supersport.com berig Sanzaar, die beheerliggaam van die toernooi, het langer as ’n jaar gewerk aan ’n bloudruk om Superrugby se langtermyntoekoms te verseker wanneer die huidige uitsaaikontrak in 2020 verstryk.

Volgens Tew hoop die Sanzaar-raad om die planne goed te keur wanneer hy in November in Londen vergader.

“Ons doelwit is om die finale struktuur en formaat van Superrugby in November te bepaal,” sê Tew.

“Ek het dit al voorheen gesê en ek was verkeerd gewees, maar dit is waarvoor ons hoop.”

Hy wou nie uitwei oor die verskillende opsies wat oorweeg word nie.

“Ons het vier lidlande, almal met hul eie behoeftes, en dit is nie reg om daardie gesprek in die openbaar te hou nie.”

Die lomp toernooi sukkel om rugbyliefhebbers se aandag te behou.

Andy Marinos, Sanzaar se uitvoerende hoof, het vroeër vanjaar gesê dat alle opsies oorweeg word in die beheerliggaam se visie om Superrugby die toekoms in te bestuur.

Geen besonderhede is sover uitgelap nie, maar een moontlikheid is glo ’n formaat met 20 spanne in vier konferensies en die betrokkenheid van minstens een span uit die VSA.

Daar is ook ’n beroep uit sekere oorde vir ’n saamgestelde span uit die Pasifiese Eilande met spelers van Fidji, Samoa en Tonga.

Afrigters en spelers oor die algemeen het vanjaar voorgestel dat daar weggedoen moet word van die ingewikkelde konferensiestelsel ten gunste van ’n eenvoudige rondomtaliestelsel waar die spanne elk eenkeer teen mekaar speel.

Superrugby het 1986 as die Super Ses begin en met Suid-Afrika se terugkeer uit isolasie die Super 10 in 1993.

Die Super 12 het in 1996 afgeskop, ’n dekade later het dit die Super 14 geword en in 2011 Superrugby.

Daar was 18 spanne en ’n konferensiestelsel in 2016 en 2017 voordat dit vanjaar weer tot 15 spanne beperk is.

– Sportredaksie

Meer oor:  Superrugby  |  Sanzaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.