Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Ons ou normaal is daarmee heen, sê Jannie

Daar gaan nie weer ’n normaal wees soos ons dit geken het nie, meen Jannie du Plessis, mediese dokter en eertydse Springbok-vaskopstut wat deesdae vir die Leeus speel.

Hy sê hy wil graag sien dat die lewe na normaal terugkeer, maar, het hy Maandag vanaf sy familieplaas in die Betlehem-distrik gesê, “daardie normaal sal nooit weer presies wees soos ons dit geken het nie”.

Jannie du PlessisFoto: Gallo Images

“Toe die pawpaw verlede week die fan getref het toe die president aangekondig het dat die land ‘gesluit’ gaan word, het ek en my vrou besluit dit sal beter wees vir ons om plaas toe te kom. Hier is meer ruimte vir almal en uit ’n gesondheidsoogpunt en blootstelling aan mense is dit ook beter,” het hy gesê.

In hierdie dae is daar een tergende vraag vir Du Plessis: “Hoe op aarde gaan ’n mens hierdeur kom?”

Dit is ’n vraag wat die afgelope klompie dae sekerlik al deur derduisende koppe gemaal het.

“Ek moet erken toe die koronavirus net begin posvat het, het ek gedink dit is dalk so ’n bietjie dik vir ’n daalder. Mense dink tog daar word ’n bietjie op hol gegaan oor iets wat soos ’n griep is.

“Ek het toe gaan navorsing doen oor die koronavirus en vir my het dit omtrent dieselfde effek as wat die groot griep in 1918 gehad het. Wat daardie griep betref, was die menslike immuunstelsel nie opgewasse daarteen nie en dit het ’n groot aantal lewens geëis.

“Wat my nogal van hierdie virus laat skrik het, is hoe vinnig dit versprei. Ons was nog enkele weke gelede in Australasië op toer, maar dit laat jou regop sit hoe dit binne ’n kort tydjie wêreldwyd versprei het.

Uit ’n rugby-oogpunt is dit nie vir my lekker om nou op my eie te moet werk nie. Rugbyspelers is maar tropdiere.

“Ek meen wel dat ons gesondheidstelsel gerat is om dit baie effektief te kan behandel. Soos wat die president te werk gegaan het en die maatreëls wat in plek gestel is, is die regte manier om dit te benader, al is daar tog nog mense wat skepties oor die sluiting van die land is,” sê Du Plessis.

“Terwyl ek nou hier sit – in wat ek glo ’n laerisiko-gebied is – voel ek jammer vir Bismarck (sy jonger broer wat nog in Frankryk is).

“Hul tydperk van isolasie is nog langer as ons s’n en dis juis ook nou verleng. Hy is in ’n veel kleiner plekkie as ons vasgevang en sit boonop met tweelingseuns, wat sake moeiliker maak. Ek kry hom jammerder as myself,” sê hy.

“Uit ’n rugby-oogpunt is dit nie vir my lekker om nou op my eie te moet werk nie. Rugbyspelers is maar tropdiere. Ons wil mos maar saam met die res van die trop wees. Dit maak dinge bleddie moeilik, maar ons kan maar net hoop dat daar ’n oplossing is en dat ons so gou as moontlik weer met ons rugby kan aangaan. Dat ons so naby as moontlik kan kom aan dit wat ons as normaal ervaar het,” sê Du Plessis.

Meer oor:  Jannie Du Plessis  |  Superrugby  |  Covid-19  |  Rugby  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.