Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Ontmoet Dobson se nuwe luitenante

’n Span se sukses, al dan nie, word deur ’n ganse afrigtingspan bepaal, nie net die hoofafrigter nie.

Dít laat onwillekeurig die vraag ontstaan of John Dobson, die Stormers se hoofafrigter, die regte luitenante gekies het.

Dawie Snyman en Norman Laker – onderskeidelik verlede jaar se agterlyn- en verdedigingsafrigter – is weer aan boord ná ’n mislukte Superrugby- en Curriebeker-veldtog vir die Stormers en Westelike Provinsie in 2019.

Albei het darem ook al sukses geproe en daar was verlede jaar probleme agter die skerms in die WP, wat nie bevorderlik was vir welslae op die veld nie.

Die Stormers se pak voorspelers (links) beskik vanjaar oor ’n rits Springbok-Wêreldbeker-wenners en daarom is die Kapenaars se nuwe voorspelerafrigter, Rito Hlungwani, gretig om hul insette aan boord te neem. Foto: Gallo Images

Vir vanjaar se Super-veldtog het Rito Hlungwani vir Russell Winter as voorspelerafrigter vervang en is Labeeb Levy die taak gegee om die span se vaardighede op te knap. Levy vervang die Nieu-Seelander Paul Feeney.

Hlungwani het in 2005 vir die Westelike Provinsie as ’n slot begin speel en die Streeptruie elke nou en dan verteenwoordig voordat hy in sy laaste seisoen in 2009 voor gedraf het vir die Boland-Kavaliers.

Rito Hlungwani, die Stormers se nuwe voorspeler-afrigter. Foto: Gallo Images

Hy én Levy het deur die WP se klubstrukture gevorder.

Die vraag is natuurlik hoe dié hulpafrigters daarin sal kan slaag om die Stormers se hoëprofielspelers selfs beter te maak nadat hulle pas die Wêreldbeker Suid-Afrika toe help bring het.

“Ons het ’n baie ervare agttal, so jy kan nie ’n situasie hê waar ek sake dikteer en vir die spelers preek nie,” sê Hlungwani oor sy benadering.

“Ek moet ’n omgewing skep waar almal insette kan lewer en ons kollektief genialiteit skep. As ek dít kan vermag, sal ons almal se intelligensie en ervaring ten volle kan ontgin.

“Die Bokke het tot op hede baie goeie insette gelewer deur hul idees en ervaring op nasionale vlak te deel. Ek het die deur oopgemaak vir hul bydrae.”

Levy, wat vir ’n handvol seisoene al onder Dobson se vlerk is, meen spelers kan ongeag die vlak waar hulle meeding steeds hul vaardighede opknap.

Sy kwalifikasies is indrukwekkend. Hy het vlak 3-afrigtingsertifikate van Wêreldrugby, Nieu-Seeland én Suid-Afrika.

Labeeb Levy is vanjaar die Stormers se vaardigheidsafrigter.

“Ek het baie van ons spelers op o.21- en Vodacombeker-vlak afgerig. Van hulle het nou op ’n hoër vlak gespeel en sal ’n mening hê wat jy in ag moet neem, maar daar’s ook werk en ’n geleentheid vir hulle om te verbeter,” sê Levy.

“Ons probeer ’n omgewing skep waar ons kan verbeter, kreatief wees en ons planne kan uitvoer.”

Om spelers se vaardighede op te skerp, vereis dit dikwels die nabootsing van druksituasies op die oefenveld. ’n Goeie voorbeeld van hoe selfs spelers van toetsgehalte hul vaardighede kan opknap, is die verkeerde opsie van ’n eenhandige aangee deur die Bok-kaptein, Siya Kolisi, na Sergeal Petersen toe die doellyn gewink het in die afgelope naweek se voorseisoense wedstryd teen die Haaie in Johannesburg.

“Die positiewe sy daarvan is dat die gehalte van die aangee goed was. Daar het waarskynlik kommunikasie ontbreek en die besluitneming was in ’n breukdeel van ’n sekonde nie in die kol nie. Dis dinge wat ons in oefensessies, opwarming en individuele en spansessies onder druk kan verfyn,” sê Levy.

Vir baie ondersteuners sal dit ’n riem onder die hart wees om te sien dat afrigters deur die provinsiale strukture tot op Superrugby-vlak vorder en Hlungwani het goeie raad aan diegene wat hulle dit wil nadoen.

“Die eerste ding is dat jy bereid moet wees om van enigiemand te leer en oopkop moet wees. Baie afrigters is gewillig om hul inligting te deel en jy moet ’n hongerte hê om by almal te leer en daardie ervaring te gebruik,” sê hy.

“Jy sal mettertyd raakgesien word as jy ’n positiewe indruk maak deur die spanne wat jy afrig. Wees oopkop, nuuskierig en gretig om te leer.”

Meer oor:  John Dobson  |  Stormers  |  Rito Hlungwani  |  Superrugby  |  Russell Winter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.