Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Oorwinning welkome lafenis vir Bulle

Dit was weer in die geheel ’n vertoning wat die rugbymanne in dié geweste koud sal laat, maar daar is tog hoop vir dié gekweste Bul.

Die Bulle het Saterdagaand op Loftus Versfeld vir eers die verloorjuk afgeskud met ’n sege van 26-13 oor die Jaguares in die Superreeks.

Piet van Zyl probeer ’n Jaguares-verdediger ontwyk. Foto: Gallo Images

Met die dat daar geëis word dat die koppe by Loftus begin rol, bring die oorwinning welkome lafenis.

Nog ’n keer se boedel oorgee en die vet sou behoorlik in die vuur gewees het vir die Bulle.

Die tuisspan was af en toe heel skaflik – stukke beter as die prul wat hy verlede week in Tokio opgedis het.

En dit moet seker iets tel dat die oorwinning gekom het teen ’n teenstander van amperse toetsgehalte.

Daar was ’n ruk wat die karige Paasnaweek-skare op Loftus opnuut moes wonder of die Bulle ná rustyd weer sou gaan lê het.

Die Bulle het dié keer vasgebyt en die Jaguares se val met ’n sterk eindpoging bewerk.

Travis Ismaiel, wat enduit lus was vir hardloop, het in die eerste helfte gaan druk nadat Piet van Zyl, die Bulle se skrumskakel, skerp gebreek het.

Daar was weer te veel aanvallende oomblikke wat op niks uitgeloop het in Bulle-geledere.

Teen rustyd – met die Bulle 13-3 voor – was die tergende vraag of daar dié keer daarop voortgebou kon word.

Die Jaguares-losskakel, Santiago González Iglesias, is boonop in die 38ste minuut met ’n geelkaart gestraf vir sy jakkalsstreek by ’n losgemaal op sy span se doellyn.

Met die besoekers wat ná die ruskans summier in die Bulle se halfgebied kamp opgeslaan het, was dit ’n kwessie van tyd voor hulle sou toeslaan.

Die geeltruie se nr. 9, Gonzalo Bertranou, het gaan druk en met ’n Iglesias-strafdoel ’n rukkie later, het die voorsprong na 16-13 gekrimp.

Lood de Jager, die Bulle-slot, het vir die deurslaggewende drie oorgeduik nadat sy losskakel, Handré Pollard, ’n goed beplande rolskoppie deur die Jaguares se linie gesool het.

Warrick Gelant het die bal bemeester en De Jager weggestuur vir die wenpunte.

Dit moes die Bok-afrigter, Allister Coetzee, laat moed skep het dat De Jager en nog ’n voorbok in Pretoria, Jesse Kriel, albei hul beste vertonings sover die seisoen gelewer het.

Kriel was op sy stukke wanneer hy op loop gegaan het en was die beste agterspeler op die veld.

De Jager was skitterend in die lynstane en sy werkverrigting uitstaande.

Die Ligblou-skakelpaar, Pollard en Van Zyl, was self meer as skaflik.

Die Jaguares het ná verlede naweek se nederlaag teen die Haaie nie met dieselfde ywer in Pretoria opgedaag nie.

Maar laat dit niks wegneem van ’n broodnodige sege in die hoofstad nie.

Punte

Bulle 26 (13) Drieë: Travis Ismaiel, Lood de Jager. Strafdoel: Handré Pollard (4). Doelskoppe: Pollard (2).

Jaguares 13 (3) Drie: Gonzalo Bertranou. Strafdoel: Santiago González Iglesias (2). Doelskop: Iglesias.

Meer oor:  Pretoria  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.