Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Oud-Bok Alberts in die Leeus se visier

En die Leeu kom terug.

Willem Alberts, wat vir Stade Francais in Frankryk speel, stamp ’n speler van die Leicester Tigers uit die pad in ’n Europese Kampioenebeker-stryd ’n paar jaar terug. Foto: Gallo Images

Dit kan die geval met Willem Alberts wees, wat in die Leeus se visier is om aanstaande jaar hul agtsteman in die plek van Warren Whiteley te wees in Superrugby.

Dié 35-jarige oud-Springbok, wat sedert 2015 sy rugby vir die Franse klub Stade Francais speel, blyk die jongste in ’n rits Suid-Afrikaanse veterane te wees wat terugkeer huis toe en hul rugby weer hier plaaslik gaan speel.

Rudolf Straeuli, die uitvoerende hoof van die Leeus, het Woensdag bevestig dat daar met Alberts onderhandel word.

Sou hy daarin slaag om Alberts se handtekening op ’n Leeus-kontrak te verseker, sal dit nie die eerste keer wees wat Straeuli daarin slaag om dié stewige agtsteman se dienste te verseker nie.

Dit was juis hy wat Alberts en die heelagter Louis Ludik in 2010 van die Leeus na die Haaie gelok het.

Alberts het van 2005 tot 2009 in 72 wedstryde vir die Leeus gespeel in Super- en Curriebeker-rugby en daarna 92 keer vir die Haaie in dié twee reekse.

Hy het 43 toetse in die Springbok-trui gespeel.

In sy laaste wedstryd vir Stade Francais het Alberts ’n boarm-besering opgedoen en sy kontrak by die Leeus sal onderhewig wees daaraan dat hy medies fiks verklaar word.

Die agtsteman-laai by die Leeus is effe uitgedun, met Whiteley se besering wat hom uit die Superreeks hou (en moontlik selfs tot sy uittrede kan lei) en Hacjivah Dayimani, wat voorlopig eers op sewesrugby gaan fokus.

Nóg ’n oud-Haai, die Bok-stut Jannie du Plessis, het nou ’n kontrak met die Leeus gesluit en is reeds deel van hul oefenkamp in Secunda.

Volgens Straeuli word daar nog met ’n aantal spelers onderhandel, maar hy wou nie name bekend maak nie. Dit kan egter wel die veelsydige agterspeler Frans Steyn en selfs Du Plessis se broer, die oud-Bokhaker Bismarck, wees.

Straeuli het bevestig dat daar eerstens gekyk word na plaaslike spelers en dat Alberts, ’n oud-leerling van die Hoërskool Monument in Krugersdorp, nog gesien word as ’n plaaslike speler.

Die haker Malcolm Marx sal weer van Junie aanstaande jaar tot met die Britse en Ierse Leeus se toer in 2021 vir die Leeus beskikbaar wees.

Ander spelers wat intussen by die Leeus aangesluit het, is die voormalige Blou Bul-losvoorspeler Roelof Smit, die voormalige losskakel van die WP se o.21-span en ook oud-Matie, Tiaan Swanepoel, André Warner, skrumskakel van die Blou Bulle, die Vrystaatse o.21-losskakel en binnesenter James Mollentze en ook die senter Dan Kriel, wat nog vanjaar vir die Westelike Provinsie gespeel het.

Marvin Orie (slot) en Andries Coetzee (heelagter) speel nog hul rugby in die buiteland en sal eers later by die Leeus se oefengroep aansluit.

Gianni Lombard sukkel ook nog met die kniebesering wat hy vanjaar in die Superreeks opgedoen het en sal die eerste paar wedstryde in aanstaande jaar se reeks misloop.

“Die ouens oefen hard en ons is opgewonde oor aanstaande seisoen. Daar is ’n nuwe afrigtingspan en wat kondisionering betref, werk Ivan van Rooyen (nuwe hoofafrigter) hard met sy spelers," het Straeuli gesê.

Die Leeus speel op 17 en 19 Januarie oefenwedstryde teen die Bulle. Die kragmeting op die 19de word in die FNB-stadion in Soweto gespeel en sal deel van die Superheld-Sondag wees, waar die Stormers en Haaie ook in hul Marvel-superheldtruie in aksie sal wees.

Hulle sal ook in oefenkragmetings met die universiteitspanne van Wits, UJ en die Pukke betrokke wees voor hul eerste Superrugby-kragmeting op 1 Februarie in Buenos Aires teen die Jaguares.

Meer oor:  Willem Alberts  |  Leeus  |  Superrugby  |  Rugby  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.