Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Jannie wil respek afdwing by Leeus
Jannie du Plessis is vuur en vlam om ’n sukses van sy skuif na die Leeus te maak. Foto: Gallo Images

Rugby in Europa is baie anders as hier in die Suidelike Halfrond, gee Jannie du Plessis, wat onlangs uit Frankryk teruggekeer en op 37-jarige ouderdom 'n kontrak met die Leeus gesluit het, toe.

“Dit is ’n groot uitdaging om Superrugby te speel. Die gehalte van die spel is baie goed en daar is nie iets soos ’n maklike wedstryd nie.

“Die voorseisoen hier in Suid-Afrikaanse rugby verskil ook kwaai van hoe dit daar in Europa is. Hier is die voorseisoen baie meer intens en moet jy in Februarie al teen ’n hoë tempo kan speel.

“Daar in Europa is die seisoen eintlik soos ’n dieselenjin op ’n koue oggend. Hy vat nogal ’n ruk om aan die gang te kom. Die tempo daar is stadiger en ek wonder nou weer hoe gaan ek hier van een afbreekpunt tot die volgende kom,” sê hy.

“Ek het wel my tyd in Frankryk geniet,” sê Du Plessis, wat die afgelope vier jaar vir die klub Montpellier gespeel het.

Om daardie skuif soontoe te gemaak het, was nogal taai. Veral die eerste 18 maande. As jy egter die antwoorde begin kry oor wat jy daar doen, gaan die lig vir jou aan.
Jannie du Plessis

“Om daardie skuif soontoe te gemaak het, was nogal taai. Veral die eerste 18 maande. As jy egter die antwoorde begin kry oor wat jy daar doen, gaan die lig vir jou aan,” sê hy.

“Die Leeus het my sedert ek hier aangekom het, baie welkom laat voel. Ek wil ook die respek hier verdien met my vertonings op die speelveld,” sê hy.

Toe hy gevra word of hy dalk voel hy kan weer ’n Springboktrui dra, het Du Plessis vinnig vasgeskop.

“Om nou te wil praat van weer Springbok-rugby speel, is om in Januarie oor Kersfees te wil praat. Dit sal dinge baie ver vooruit loop,” glo hy.

“Ek sal nou eers net daarop konsentreer om suksesvol te kan wees hier by die Leeus en dit sal nogal ’n aanpassing verg van die rugby wat in Europa gespeel is.

Rassie Erasmus was Jannie du Plessis se eerste afrigter in sy provinsiale rugbyloopbaan. Foto: Gallo Images

“Ek is oorgehaal om baie hard te werk tot voordeel van die Leeus. Dit gaan beslis nie ’n Sondagskool-piekniek wees nie,” sê hy.

Was hy verbaas toe die Springbokke die Wêreldbeker in Japan verower het?

“Glad nie. Rassie Erasmus was my eerste afrigter by ’n provinsiale span (Vrystaat) en ek weet waartoe hy in staat is. Dus het dit my beslis nie verbaas dat die Bokke met hom as afrigter die wêreldkampioen kon word nie.

“Hy is presies in hoe hy dinge doen en hy weet hoe om die beste uit sy spelers te kry. Daar was eintlik net so 12 minute in die eerste wedstryd teen die All Blacks waar die Bokke nie goeie rugby in die hele toernooi gespeel het nie.

“En as jy darem kan sê jy het net vir 12 minute nie goed in ’n Wêreldbeker-toernooi gespeel nie, verdien jy darem seer sekerlik daardie trofee.”

Meer oor:  Jannie Du Plessis  |  Rassie Erasmus  |  Johannesburg  |  Superrugby  |  Rugby  |  Stut  |  Leeus  |  Montpellier  |  Oud-Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.