Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Pieter-Steph du Toit weer onder mes

Wêreldrugby se Speler van die Jaar, Pieter-Steph du Toit, het Maandag ’n tweede prosedure ondergaan om bloed te dreineer wat deur ’n hematoom aan sy bobeen veroorsaak is.

Vir die Stormers beteken dit dat hy waarskynlik eers weer in Mei beskikbaar sal wees vir hul Superrugby-veldtog.

Pieter-Steph du Toit sal baie deur die Stormers gemis word terwyl hy van sy beenbesering herstel, maar die plan was wel om vir hom in die komende weke ’n blaaskans van ’n paar weke te gee. Foto: Gallo Images

“Ons sien uit na sy herstel en om hom terug te hê. Hy is uiteraard ’n baie groot speler vir ons. Die plan was wel om hom nou te laat rus,” sê John Dobson, die Stormers se afrigter.

Die Superrugby-franchises het ’n ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie dat top-Springbokke vir drie van hul wedstryde moet rus. Soos in die geval met die Bok-kaptein, Siya Kolisi, en haker Bongi Mbonambi, bespoedig dit nou die proses met Du Toit.

Vir Dobson is dit natuurlik ’n groot slag dat drie van sy Bokke reeds langs die kantlyn gedwing is. Die Westelike Provinsie Rugbyunie het juis hemel en aarde verskuif om die geld bymekaar te skraap om hierdie top-Bokke te behou.

Gelukkig vir Dobson ontbreek hy nie aan diepte op die flank nie.

Cobus Wiese was ’n plaasvervanger vir die Stormers in die afgelope naweek se nederlaag teen die Blues op Nuweland. Foto: Gallo Images
Johan du Toit is ’n sterk aanspraakmaker om sy broer Pieter-Steph in die Stormers-span te vervang. Foto: Gallo Images
Ernst van Rhyn se visier sal op die Stormers se nr.7-trui wees nadat Pieter-Steph du Toit ’n beenbesering opgedoen het. Foto: Gallo Images

Du Toit se broer Johan, Ernst van Rhyn en Cobus Wiese is die drie aanspraakmakers op die nr.7-trui. Wiese is ook tuis op slot.

Robbie Fleck, wat die Stormers in die vier seisoene voor Dobson afgerig het, het aan Netwerk24 gesê Wiese is toe beskou as die man wat mettertyd die nr.7-trui syne sal maak wanneer Pieter-Steph du Toit hulle verlaat.

“Cobus het die fisieke eienskappe om beide as ’n nr.7-flank of nr.4-slot te speel. Ek het nog altyd gevoel hy is ’n nr.7-flank. Hy’s vinnig en balvaardig, en hou daarvan om met vryheid te speel,” sê Fleck.

“Hierdie kan vir hom ’n goeie geleentheid wees om gereeld te speel. Ek dink hy kan die pad enduit tot in die Bok-span stap. Hy’s vir my baie soos Juan Smith (voormalige Bok-flank) omdat hy aggressief en taai is, en ’n hoë pyndrumpel het.”

Wiese is nog besig om sy volle fiksheid te herwin nadat hy van ’n besering teruggekeer het, wat Dobson moontlik kan laat besluit om eers vir Johan du Toit of Van Rhyn te kies vir volgende week se wedstryd teen die Haaie in Durban.

Die Stormers het die naweek ’n loslootjie.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Johan Du Toit  |  Pieter-Steph Du Toit  |  Cobus Wiese  |  Stormers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.