Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Pollard lewer pleidooi aan Bulle
Die Bulle-losskakel en -kaptein, Handré Pollard speel vanjaar ’n beduidende rol in sy span se Superrugby-veldtog. Foto: Gallo Images

Gaan verdien weer respek op Loftus Versfeld.

Wanneer die Bulle Saterdag in Pretoria teen die Reds te staan kom in die Superreeks, is dít wat die Springbok-losskakel Handré Pollard van sy span vra.

Die Bulle het hulle laaste twee wedstryde op Loftus – teen die Chiefs en die Jaguares – teen die verwagtinge in verloor.

Veral Saterdag se nederlaag teen die Argentynse span dreig om die Bulle se aanslag in die reeks te beduiwel.

Pollard, wat ’n ruskans gekry het teen die Jaguares, sê die Bulle sal méér moet doen voordat daar weer na Fort Loftus verwys kan word soos in die gloriejare.

Samu Kerevi, kaptein van die Reds, verlede week op die aanval teen die Stormers. Foto: Getty Images

“Ons moet meer gereeld wen as ons dit Fort Loftus wil noem. Dit help niks jy noem dit so, maar ons wen nie.

“Dan gaan niemand dit vrees om op Loftus te kom speel nie.”

Pollard sê hulle wil graag die stadion se ryke verlede gestand doen.

“Dit is vir ons op ons eie manier spesiaal. Ons het dalk nie die laaste paar jare hier oorheers soos in die gloriejare nie, maar dit is steeds ’n ongelooflike stadion.

“Ons moet weer respek verdien op Loftus.”

Die Bulle-kaptein was reg met ’n kwinkslag toe sy vertoningslys oorsee ter sprake gekom het.

“Ek sal liefs nie oor my vertoningslys oorsee praat nie.

“Dalk moet hulle my eerder by die huis los wanneer ons gaan toer.

“Ons is altyd mededingend in die Suid-Afrikaanse derbies, soos wat ons al vanjaar gewys het.

“Jy moet teen die oorsese spanne ook kan wen. Nie net by die huis nie, maar ook oorsee.

Die Bulle-aanwins Wiehahn Herbst, toe hy nog vir Ulster gespeel het. Foto: Getty Images

“Sedert ek by die Bulle is, kon ons dit nog nie doen nie.

“Dit het bietjie van ’n olifant in die kleedkamer vir ons geword, maar ons moet dit nie groter maak as wat dit is nie.”

Die Bulle verwag ’n fel aanslag op die voordeellyn, met die fris Wallaby-senter Samu Kerevi wat as die gevaarman geteiken word.

“Hulle sal selfvertroue hê (ná verlede week se sege oor die Stormers in Brisbane) en die Reds is ’n span wat maklik momentum kry met ’n groot pak en Kerevi,” sê Pollard.

Pote Human, breier van die Bulle, het intussen nie gras onder sy voete laat groei om die aanwins uit Ierland, Wiehahn Herbst, in sy 23-tal te kies nie.

Die 30-jarige vaskopstut, wat sedert 2014 by Ulster was nadat hy voorheen vir die Haaie Superrugby gespeel het, word as ’n waardevolle aanwins beskou.

“Hy het baie ondervinding opgedoen en ek verwag dat hy ’n groot impak kan hê,” sê Human.

Meer oor:  Handre Pollard  |  Pretoria  |  Kaptein  |  Rugby  |  Bulle  |  Superrugby  |  Loftus Vers­Feld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.