Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Pote ‘hartseer’ oor Nuweland-stryd

Die afgelope week is aangekondig dat Skotland die eer kry om vir oulaas die Springbokke se teenstander op Nuweland te wees.

Dit sal telkens vanjaar ’n seisoen van laastes wees, soos byvoorbeeld wanneer die Bulle Saterdag in Kaapstad teen die Stormers uitdraf.

Die Westelike Provinsie sal dié seisoen in die Curriebeker-reeks in Pretoria gaan draai, wat beteken dat dit in alle waarskynlikheid die laaste keer is wat ’n Bulle-span op Nuweland teen sy ou vyand sal speel.

Pote Human, die besoekers se breier, gee toe dat hy in daardie opsig van die ou skool is.

Morné Steyn lê in 2011 op Nuweland aan pale toe vir die Bulle. Hy is Saterdag weer die Bulle se losskakel wanneer die spanne mekaar in die Superreeks pak. Foto: Gallo Images

“Dit is hartseer. Ek het in 1981 my eerste wedstryd op Nuweland (vir die destydse Oostelike Provinsie) gespeel. “Ek het oor die jare groot oomblikke daar gehad. Ek was kaptein van die Vrystaat toe ons die WP in 1990 die eerste keer in baie jare geklop het (slegs die vierde keer in 96 jaar op Nuweland in daardie stadium).

“Een jaar saam met die Bulle moes ons die Stormers met 33 punte geklop het om die uitspeelronde te haal en toe wén ons met 33 punte.

“Ja, ’n ou is hartseer om afskeid te neem van Nuweland. “Enige rugbyliefhebber sal die atmosfeer mis. Dit is ’n spesiale plek,” sê Human.

Die Bulle verwag dat die Nuweland-sentiment vanjaar swaar sal weeg.

“Dit is net anders om daar te speel. Tuisveldvoordeel speel altyd ’n rol, maar des te meer op Nuweland.”

Die besoekers is van plan om dit ’n heuglike afskeid te maak.

“Niks is onmoontlik nie. Ons het twee jaar gelede in die Curriebeker 40 punte in een helfte afgestaan (op Loftus Versfeld) en het die volgende naweek amper daar in die Curriebeker-halfeindstryd gaan wen.

“Die ouens se gemoed is reg vir ’n goeie vertoning,” sê Human.

Makliker gesê as gedaan. Die Bulle was immers laas in 2011 in die Superreeks op Nuweland aan die wenkant.

’n Ene Morné Steyn was daardie dag die besoekers se losskakel.

Human hoop dit is ’n goeie voorbode. Hy het dié veteraan in sy beginspan behou nadat hy hom verlede week teen die Haaie beïndruk het.

“Daar was baie druk op hom, omdat hy die ‘ou man’ is wat nou weer speel. Dit is waardevol om hom in die span te hê. Hy hou die ouens om hom rustig en hy is ’n slim rugbyspeler.”

* Nuweland-stadion sal na verwagting ontwikkel word, en die WP Rugby het vroeër bevestig dat hy na die Kaapstad-stadion gaan skuif.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Pote Human  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Kaapstad-Stadion  |  Springbokke  |  Superrugby  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.