Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Pote klap sweep Doer Onder

Pote Human het die Bulle se swak vertoning teen die Crusaders verlede naweek as ’n persoonlike belediging ervaar en vereis van hulle om Vrydag in Melbourne teen die Rebels daarvoor te vergoed.

Nadat die Bulle ondersteuners verlede Vrydag net R20 per kaartjie gevra het in ’n poging om Loftus se paviljoene voller te kry, het die tuisspan nie veel beter as die kaartjieprys se waarde vertoon nie en is hulle met 45-13 deur die Crusaders afgeransel.

Pote Human, afrigter van die Bulle, glo sy span sal Vrydag vergoed vir sy skandes teen die Crusaders. Foto: Getty Images

Human is egter vol vertroue dat sy span nie Vrydag weer só sal kleitrap in die Superrugby-wedstryd teen die Rebels nie.

“Ons het hard na onsself gaan kyk sedert ons in Australië geland het,” het Human Woensdag vanuit Melbourne gesê.

“Ons kan beslis nie weer so speel nie. Ons verdediging was swak en ons het heeltemal te veel sagte drieë weggegee.

“Daar is altyd druk op ’n afrigter. Ek neem dit persoonlik op as ons nie goed doen nie. Ek wil nie die ouens teleurstel wat my aangestel het nie en ook nie die toeskouers en ondersteuners nie,” sê Human.

“Ons sal beter wees die naweek.”

Die Bulle het ’n paar veranderinge aan hul beginspan gemaak, met die heelagter Warrick Gelant wat terug op sy pos sal wees, terwyl Hanro Liebenberg ook van sy besering herstel het en in die beginspan op flank ingespan sal word.

Paul Schoeman is ook tot die beginspan bevorder en sal langs Liebenberg in die skrums sak.

Human het besluit om sy slotpaar om te ruil deur vir RG Snyman die 4-trui en vir Jason Jenkins die 5-trui te gee.

Jannes Kirsten en Marco van Staden skuif albei na die plaasvervangersbank toe nadat hulle verlede week begin het.

Van Staden sukkel met ’n ligte besering en sal daarom versigtig gebruik word. Divan Rossouw sal ook onder die plaasvervangers tel nadat hy verlede week begin het, terwyl die flank Thembelani Bholi uit die 23-tal weggelaat is.

Handré Pollard se taktiese skopwerk sal veel beter teen die Melbourne Rebels moet wees. Foto: Gallo Images

Die Bulle spog met ’n goeie rekord teen die Rebels en het vyf van hul ses kragmetings met dié span gewen. Hul enigste nederlaag was in 2015.

Human glo dat die Rebels juis die ideale span is om sy oorsese toer teen af te skop en hoop dat die Bulle ’n einde aan hul powere rekord sal bring op dié toer.

Die Bulle kon net in twee van hul laaste 25 wedstryde in Australasië die pyp rook. Dis die swakste vertoningslys van enige van die Suid-Afrikaanse spanne in die buiteland.

Hulle het in 2017 en in 2018 al agt wedstryde buite Suid-Afrika verloor, maar Human glo sy span kan die bordjies verhang.

“Ons wil nie net deelneem nie, ons wil die uitkloprondes haal, so ons moet wen. Ek weet die spelers is beter as wat hulle teen Crusaders gewys het. Ons het twee keer die seisoen nie teen die Kiwi’s op Loftus opgedaag nie.”

Human het ook bevestig dat hy sy Springbokke Duane Vermeulen en Handré Pollard elk slegs in twee van die vier wedstryde op toer kan gebruik.

Spanne

Bulle: Warrick Gelant, Cornal Hendricks, Johnny Kotze, Burger Odendaal, Rosko Specman, Handré Pollard (k), André Warner, Duane Vermeulen, Hanro Liebenberg, Paul Schoeman, Jason Jenkins, RG Snyman, Trevor Nyakane, Schalk Brits, Lizo Gqoboka. PLAASVERVANGERS: Jaco Visagie, Simphiwe Matanzima, Wiehahn Herbst, Jannes Kirsten, Marco van Staden, Embrose Papier, Manie Libbok, Divan Rossouw.

Rebels: Dane Haylett-Petty (k), Jack Maddocks, Reece Hodge, Billy Meakes, Marika Koroibete, Quade Cooper, Will Genia, Rob Leota, Richard Hardwick, Luke Jones, Matt Philip, Ross Haylett-Petty, Jermaine Ainsley, Anaru Rangi, Tetera Faulkner. PLAASVERVANGERS: Hugh Roach, Matt Gibbon, Sam Talakai, Sam Jeffries, Pone Fa’amausili, Michael Ruru, Campbell Magnay, Matt To’omua.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Pote Human  |  Rebels  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.