Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Pote se geduld beproef ná 3de nederlaag

Lojaliteit is prysenswaardig, maar dit sal die komende week duidelik wees of Pote Human se geduld ná ’n derde agtereenvolgende nederlaag in die Superreeks opgeraak het.

Human het Saterdagaand, nadat sy span op Loftus Versfeld met 21-23 teen die Blues gegly het, gesê sy span se dissipline was teleurstellend.

Warrick Gelant (links) en Rosko Specman (regs) vier Saterdag Morné Steyn se drie teen die Blues op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

“Ek het gedink ons was die beter span op die veld, maar die dissipline was nie goed nie.”

Die besluit om Burger Odendaal, die Bulle se kaptein, in die eerste helfte ’n geelkaart te gee ná sy indrukwekkende plettervat op die Blues-vleuel Emoni Narawa, is ’n warm besprekingspunt.

Narawa het gaan hurk toe Odendaal die duikslag uitgevoer het en dit het die Bulle-senter van ’n rooikaart gered.

Hoewel Human geen kritiek teenoor die blaser, Marius van der Westhuizen, gehad het nie, het hy wel gesê hy het gevoel Odendaal kan homself ongelukkig ag.

Odendaal was maar net te bly hy het nie in die 24ste minuut van die wedstryd in ’n rooie vasgekyk en gaan stort nie.

“Ek het eers gedink dit was ’n goeie duikslag, maar toe ek die kykweer sien, het ek geweet ek is in die moeilikheid. “So, ek kan eintlik nie kla nie,” het Odendaal gesê.

Human het in die wegwedstryde teen die Haaie en die Stormers en Saterdag teen die Blues op enkele uitsondering na gehou by dieselfde beginspan.

Hy is al gekritiseer oor die skakelpaar Embrose Papier en Manie Libbok wat tot dusver van die bank moet speel.

Saterdagaand is daar ná afloop van die wedstryd in Loftus se wandelgange gevra waarom Human vir Libbok in Morné Steyn se plek opgestuur het toe die Bulle in moeilike toestande in beheer was en in ’n stadium in die tweede helfte ’n voorsprong van 14-8 gehad het.

Daar is ook ondersteuners wat wil weet waarom die Tongaan Nafi Tuitavake gekontrakteer is as hy nie betrek gaan word nie.

Dit is ’n moeilike een om te verwerk.
Pote Human

Die losvoorspelers Marco van Staden, Tim Agaba en die belowende Muller Uys sal almal die week oorweeg kan word vir Saterdag se afspraak op Loftus met die Jaguares.

Human het toegegee die druk is aan die oplaai ná die nederlaag tuis.

“Dit is ’n moeilike een om te verwerk. Ons vaste fasette was goed en ons het regtig nie swak rugby gespeel nie. “Maar dit was ’n tuiswedstryd en dit is ’n groot slag vir ons veldtog.”

Uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt is die Bulle, wat verlede seisoen die keur onder die plaaslike spanne was, reeds ver agter die Stormers en die Haaie.

Die Kapenaars is ná vier uit vier oorwinnings op 17 ligapunte en die Haaie is ná ’n tweede wegoorwinning in Australasië op 12 punte. Die Bulle het een, nadat hulle Saterdag ’n bonuspunt teen die Blues gekry het.

Die Bulle speel die volgende twee naweke op Loftus teen die Jaguares en die Highlanders voordat hulle na Australasië toer.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Pote Human  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.