Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Pote ‘skiet homself in voet oor Morné’

Die Bulle se selfvertroue sal ná drie agtereenvolgende nederlae ’n knou weghê, maar dit is darem te vroeg om ’n noodtoestand by Loftus Versfeld af te kondig, sê Phil Pretorius, ’n oudafrigter van dié span.

Morné Steyn word deur Warrick Gelant en Rosko Specman gelukgewens ná sy drie die naweek teen die Blues. Dit was nie genoeg om die Bulle op die wenpad te kry nie. Foto: Gallo Images

Ondersteuners van die Bulle raak al warmer onder die kraag oor die span se vertonings vanjaar in die Superrugby-reeks.

Daar is selfs voorspellings dat die span afstuur op ’n herhaling van die 2002-seisoen, toe die Bulle, onder Pretorius se afrigting, al 11 wedstryde op ’n streep verloor het in die destydse Super 12-reeks.

Pretorius sê Pote Human se span verdien nie om net een punt op die puntelys te hê nie.

“Hulle was in die eerste twee wedstryde teen die Haaie en die Stormers enduit in die wedstryd en kon met ’n bietjie meer geluk selfs gewen het.

“Saterdag het hulle die wedstryd in die sakkie gehad teen die Blues, maar die Bulle moes meer gedoen het om seker te maak van die sege.”

Die Bulle het met 21-23 verloor toe Otere Black, die Blues-losskakel, met speeltyd verstreke die wenstrafdoel deur die pale gejaag het.

Pretorius is van mening dat Human ’n oordeelsfout begaan het toe hy Morné Steyn in die tweede helfte met Manie Libbok vervang het.

Ek dink Pote het homself in die voet geskiet. Die veld was nat en Steyn moes ook daardie laaste 20 minute op die veld gewees het.
Phil Pretorius

“Ek dink Pote het homself in die voet geskiet. Die veld was nat en Steyn moes ook daardie laaste 20 minute op die veld gewees het.

“Manie Libbok is ’n fantastiese aanvallende speler, maar die nat toestande pas hom nie so goed nie.”

Human word die afgelope ruk gereeld gevra waarom hy Libbok nie ’n kans in die beginspan gee nie.

Pretorius sê Human “kan hom eenvoudig nie laat lei deur meningsvormers langs die kantlyn nie”.

Manie Libbok is terug op losskakel vir die Blou Bulle vir Saterdag se ontmoeting met Griekwas in die Curriebeker-reeks. Foto: Gallo Images

“Ek sou dit wel sterk oorweeg het om Saterdag teen die Jaguares met Libbok te begin. Ek dink nie die Jaguares se verdediging is bo verdenking nie en ek sal op ’n droë Loftus met Libbok en Embrose Papier op skrumskakel hardloop teen hulle.”

Daar moet nou perspektief behou word in die Bulle-kamp, beklemtoon Pretorius.

“Enige afrigter en span gaan deur goeie en slegte tye.

“Dit is dalk nou ’n goeie idee om die druk heeltemal te verlig deur byvoorbeeld nie hierdie week harder te wil oefen nie.

“Ek het in my tyd in Wynie Strydom en Henning Gericke ’n uitstekende spanbestuurder en sielkundige gehad om die krisisse te help bestuur en al die druk kan nie nou op Pote wees nie. Ek dink eerlikwaar nie die Bulle het ’n slegte span nie.

“Hulle kort dalk ’n losvoorspeler wat ’n goeie skakel tussen die voor- en agterspelers kan wees, soos wat (Sikhumbuzo) Notshe die seisoen vir die Haaie is.

“Daar is geen rede waarom die span se veldtog op ’n krisis moet afstuur nie.”

Meer oor:  Pote Human  |  Morne Steyn  |  Pretoria  |  Afrigter  |  Losskakel  |  Rugby  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.