Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Pote staan bankvas agter Bulle

Sou die Bulle wel die seisoen vir die eerste keer in ses jaar die Superrugby-reeks se uitspeelronde haal, sal hulle teen daardie tyd drie “eindstryde” gespeel het.

Vrydagoggend (SA tyd) se wedstryd teen die Blues in Auckland word in die Bulle-kamp as die eerste daarvan benader.

Die Bok-skrumskakel Ivan van Zyl is weer terug agter die Bulle se oond vir die ontmoeting met die Blues op Eden Park. Foto: Gallo Images

“Ons is met die rug teen die muur. Dit is ’n eindstryd vir ons en daarna moet ons nog twee eindstryde wen,” het Pote Human, die Bulle-breier, gesê toe hy Woensdag sy span aangewys het.

“Dinge is so naby in ons konferensie en dit lyk of die Jaguares die makliker paadjie het (om in die eerste plek op die puntelys te eindig).

“Ons kan dit steeds maak as ons die volgende drie wedstryde wen.”

Human het twee veranderings en ’n posisionele skuif aan die span gemaak wat teen die Brumbies teleurgestel het.

Die Springbok Ivan van Zyl is terug in die beginspan ten koste van André Warner en nog ’n Bok, Marco van Staden, neem Duane Vermeulen se plek in.

Vermeulen het teen die Brumbies ’n nekbesering opgedoen en daar is reeds vooraf besluit dat hy – soos met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) ooreengekom is – ná die wedstryd sou terugkeer huis toe om te rus.

Van Staden kry die nr. 6-trui, terwyl Paul Schoeman die nuwe agtsteman is.

Human sê Van Staden is vol ywer om weer in die Bok-prentjie te kom.

“Marco is honger en hy sal vir Rassie (Erasmus) wil wys dat hy vir die Bokke wil speel. Dit is lekker om so ’n ou te kan kies wanneer jy iemand soos Duane verloor.”

Daar word Vrydag reën in Auckland voorspel en Human sê dit sal meebring dat albei spanne hul spelstyl moet aanpas.

Hoewel ’n Kiwi-span altyd meer tuis op ’n nat veld is, het die Bulle ’n agttal wat ’n armdruk-stryd in die modder kan wen.

“As die veld nat is, sal ons hulle voor onder druk moet plaas.

“Ons fokus veral op die vaste fasette. Die Blues is ook die span wat die seisoen die meeste rolmaal-drieë afstaan en dit is iets waarna ons gekyk het.

“Dit gesê, ons sal baie meer akkuraat moet wees.”

Soos verlede week in Canberra, sal die kollig nogmaals op die Bulle-losskakel, Manie Libbok, wees.

Libbok sal moet verbeter op sy vertoning teen die Brumbies.

“Hy sal meer selfvertroue kry hoe meer hy speel. Ek glo dit sal beter gaan Vrydag. As hy op sy beste is, kan hy baie goed wees,” sê Human.

Die slot Jason Jenkins speel Vrydag in sy 50ste wedstryd vir die Bulle in die kompetisie.

Bulle
Warrick Gelant, Cornal Hendricks, Johnny Kotze, Burger Odendaal (k), Rosko Specman, Manie Libbok, Ivan van Zyl, Paul Schoeman, Hanro Liebenberg, Marco van Staden, RG Snyman, Jason Jenkins, Trevor Nyakane, Schalk Brits, Lizo Gqoboka. PLAASVERVANGERS: Jaco Visagie, Simphiwe Matanzima, Wiehahn Herbst, Jannes Kirsten, Ruan Steenkamp, André Warner, JT Jackson, Divan Rossouw.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Pote Human  |  Blues  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.