Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Rikus gereed om Jamie se skoene te vul

’n Nuwe senterpaar van Rikus Pretorius en Dan du Plessis kan vir die Stormers opdraf as die Superrugby-reeks hervat.

Daniel du Plessis. Foto: Gallo Images

John Dobson, afrigter van die Kaapse streekspan, het dié twee belowende senters uitgelig toe hy vandeesweek gepols is oor spelers waarvoor hy graag geleenthede sal wil skep.

Die Stormers het tot voor die opskorting van die reeks elke wedstryd met die Walliese reus Jamie Roberts en Ruhan Nel in hul middelveld begin.

Roberts (33) se vertonings was ’n bevestiging dat sy beste speeldae dalk verby is, maar hy het deur sy leierskap waarde toegevoeg. Hy hoop om terug te keer na die Kaap as die reeks hervat, maar verwag nie dat dit gaan gebeur nie.

In ieder geval jeuk al wat Kapenaar is sekerlik om te sien wat Pretorius kan vermag as daar vir hom geleenthede op binnesenter geskep word en of Du Plessis die beseringspook verjaag het tot ’n punt waar hy sy belofte sal kan gestand doen.

“Rikus het nog net in twee wedstryde vanjaar vir 20 minute gespeel en dis onregverdig om hom te beoordeel wanneer ons ’n agterstand moes uitwis,” sê Dobson.

Rikus Pretorius. Foto: Gallo Images

“Die ou wat sensasioneel was vir die Westelike Provinsie in wedstryde teen die SWD-Arende, Boland en klubspanne, is ‘Dan Doep’. Hy het nou vier oefenwedstryde gespeel.

“Ons almal ken vir Dan. As hy fiks kan bly, gaan hy ’n Springbok word. Daar’s by my geen twyfel nie dat hy een van Suid-Afrika se beste senters is. Ons móét vir hom ’n geleentheid gee.”

Tans moet daar waarskynlik eerder na Du Plessis verwys word as een van Suid-Afrika se mees belowende senters – iets waarop hy hom al te lank op kan roem. Hy is al 25 en word aanhoudend deur beserings gepootjie.

“Sy beserings is só sleg dat ek senuagtig raak wanneer ek bloot kyk hoe hy speel,” sê Dobson.

Hy meen Du Plessis is op sy beste ’n binnesenter, maar ook baie gemaklik in die nr.13-trui.

“Dan is fisiek, vaardig en sy balverspreiding is baie goed. Hy’s ’n baie spesiale speler. In hierdie tydstip sal ons hom op buitesenter oorweeg omdat Ruhan tot nou elke wedstryd daar gespeel het en ons vir Rikus moet deurbring,” sê Dobson.

Daar is ook twee skaflike vleuels in Edwill van der Merwe en Leolin Zas, wat nie kan wag om te wys waartoe hulle in staat is nie.

Leolin Zas. Foto: Gallo Images

“Edwill moes lankal ’n kans gekry het en ek dink Zas is die toekoms. Ek weet nie wat Seabelo (Senatla) se langtermynplanne is nie en almal weet Dillyn (Leyds) gaan hom by Harlequins aansluit, so Zas en Edwill sal geleenthede moet kry,” sê Dobson.

Voorlangs is ’n man om ’n ogie op te hou – as die toernooi hervat word – die loskopstut Leon Lyons. Hy sou in die Stormers se laaste wedstryd teen die Haaie gespeel het, was dit nie vir ’n besering nie.

Met beserings wat ook onder die slotte maai, sal Dobson graag vir David Meihuizen ’n geleentheid wil skep.

“Selfs met vyf voorspelers wat in die Wêreldbeker-eindstryd gespeel het buite aksie, dink ek ons kan ’n agttal kies wat hul man teen enige span sal kan staan,” sê Dobson.

“Maar ek móét meer geleenthede onder die agterspelers skep.”

Dobson meen die vroegste wat die reeks sal kan hervat as die inperking vandeesmaand gelig word, is middel-Mei. Teen dan sal sy kaptein, Siya Kolisi, die enigste van sy beseerde Bokke wees, wat sal kan speel.

Daar word gehoop dat Pieter-Steph du Toit en Bongi Mbonambi vroeg in Junie kan terugkeer, en Herschel Jantjies en Steven Kitshoff laat daardie maand of die eerste week in Julie.

Volgens die oorspronklike skedulering sou die eindstryd vanjaar op 20 Junie gespeel word. Tot op hede is daar nog onsekerheid vir die pad vorentoe ná Covid-19.

Meer oor:  Rikus Pretorius  |  John Dobson  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.