Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Het Pumas se Lyons ’n leeuehart?

Op hul sterkste het die Stormers ongetwyfeld die beste skrumpak in die Superrugby Unlocked-reeks, maar is hulle terselfdertyd net ’n besering of twee weg van probleme in daardie faset?

Dít kan hul afrigter, John Dobson, straks Vrydagaand uitvind wanneer ’n 23-tal sonder Steven Kitshoff en Scarra Ntubeni die Pumas in Nelspruit pak. Albei is in selfkwarantyn nadat hulle in kontak gekom het met iemand wat Covid-19 onder lede het.

Leon Lyons, wat die Springbok-loskopstut Steven Kitshoff in die Stormers se beeginspan vervang, in aksie vir die Maties in die Varsitybeker-reeks vroeër vanjaar. Foto: Gallo Images

Wat die uitdaging ’n bietjie groter maak vir Leon Lyons, Chad Solomon en Kwenzo Blose, is dat die Pumas hul sterte in die lug het ná verlede naweek se oorwinning van 27-21 oor Griekwas in Kimberley.

Is dit dalk die spreekwoordelike piesangskil-wedstryd vir die Kapenaars?

Lyons (21) is die man met die groot verantwoordelikheid om Kitshoff se skoene vol te staan.

“Ons het in elk geval beplan dat Leon hierdie wedstryd sou begin. Hy’s ’n speler oor wie ons baie opgewonde is. Hy is ’n groot en sterk loskopstut, wat deur ons junior strukture gekom het,” sê Dobson.

Wat gaan Chad Solomon se impak van die plaasvervangersbank af wees as hy vir Bongi Mbonambi teen die Pumas vervang? Foto: Gallo Images

“Leon dra die bal goed en skrum sterk. Ek verwag egter nie dat alles in sy guns gaan verloop nie. Hy het nog nie vir ons bo o.21-vlak gespeel nie en stutte bereik eers later wasdom. Hy sal hom mettertyd as een van Suid-Afrika se voorste loskoppe vestig.”

In die tweede helfte sal Lyons waarskynlik plek maak vir Kwenzo Blose, ’n Junior Springbok wat ook wag om sy loopbaan na die volgende vlak toe te neem.

Op haker gaan Dobson waarskynlik soveel speeltyd uit Bongi Mbonambi as moontlik melk alvorens hy besluit om vir Solomon op te stuur.

Dis ’n jammerte dat Schalk Erasmus en Daniel Jooste, wat in die Moederstad albei baie belofte as hakers getoon het, vroeër vanjaar onderskeidelik by die Bulle en Haaie aangesluit het.

Wat die teenstand betref, het die Westelike Provinsie so onlangs as 2017 sy rieme in Nelspruit teen die Pumas styfgeloop – ’n herinnering van wat met ’n span van ’n groot unie kan gebeur as hy sielkundig nie vir só ’n wedstryd opdaag nie en ongedissiplineerd raak.

Eddie Fouché, losskakel van die Pumas, is vandeesweek deur die Stormers se afrigter, John Dobson, geprys. Foto: Gallo Images

As ’n mens na Dobson luister, lyk dit egter nie of die Stormers daardie pad gaan stap nie. Hy meen die Pumas sou “yslike energie” uit hul oorwinning oor Griekwas geput het.

“Eddie Fouché (losskakel) beheer die wedstryd goed en die spelers wat werklik opwindend lyk, is Neil Maritz op die vleuel en Wayne van der Bank op senter,” sê Dobson.

“Op ’n vinnige veld soos daardie kan die Pumas met spoed toeslaan en hulle en die Cheetahs is die spanne wat die beste in die lynstane meeding.”

Met die ontwrigting wat die Covid-19-onttrekkings in die Stormers se voorbereiding geskep het, is Vrydag se wedstryd ook ’n karaktertoets.

Dis onder sulke omstandighede wat ’n span wys van watter stoffasie hy gemaak is.

“Dalk is hierdie soort wedstryd goed vir ons ná die terugslae wat ons beleef het. Dit sal ons baie gefokus maak,” sê Dobson.

Spanne

Pumas: Devon Williams, Neil Maritz, Erich Cronjé, Wayne van der Bank, Etienne Taljaard, Eddie Fouché, Ginter Smuts, Jeandré Rudolph, Willie Engelbrecht, Francois Kleinhans, Pieter Jansen van Vuren (k), Darrien Landsberg, Ruan Kramer, AJ Le Roux, Morgan Naude. PLAASVERVANGERS: Simon Westraadt, Liam Hendriks, Heath Backhouse, Phumzile Maqondwana, Dian Badenhorst, Niel Marais, Ali Mgijima, Ignatius Prinsloo.

Stormers: Warrick Gelant, Edwill van der Merwe, Dan du Plessis, Rikus Pretorius, Leolin Zas, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn, Siya Kolisi (k), Chris van Zyl, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Leon Lyons.

PLAASVERVANGERS (uit): Chad Solomon, Kwenzo Blose, Neethling Fouché, JD Schickerling, Nama Xaba, Jaco Coetzee, Godlen Masimla, Michal Haznar, Tim Swiel, Tristan Leyds.

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen

Assistent-skeidsregters: Aimee Barrett-Theron en Griffin Colby

TV-skeidsregter: Willie Vos

TV: 19:00 op SS Rugby (211).

Meer oor:  Pumas  |  Superrugby Unlocked  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.