Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
'Reaksie gevaarliker as virus self'

John Dobson is baie bekommerd oor die Covid-19-virussiekte. Maar nie noodwendig oor die virus self nie – die Stormers-afrigter glo die hewige reaksie daarop kan erger gevolge as die virus self hê.

John Dobson, die Stormers se hoofafrigter. Foto: Gallo Images

Die Superrugby-reeks is ná die naweek se aksie vir ’n onbepaalde tydperk opgeskort weens vrese oor die verspreiding van die virus. Bykans alle ander sportgeleenthede wêreldwyd is ook óf voorlopig gestaak óf geheel en al gekanselleer.

“ ’n Tragiese nagevolg van die reaksie tot die virus, is dat dit waarskynlik gaan lei tot meer swaarkry en dood as die virus self. Dit is weens die wyse hoe werk en die ekonomie beïnvloed gaan word,” het Dobson Saterdag gesê nadat sy span met 14-24 teen die Haaie in Durban verloor het.

“Dit is ’n groot kommer. Ek dink dit gaan arm mense op ’n groot wyse beïnvloed en ek hoop politieke korrektheid het nie te ver gegaan nie.

“Ek verstaan veiligheid kom eerste, maar as jy ons spelers vra of hulle wil speel, sal hulle ja sê. Dit is hartseer. ’n Moeiliker tyd as wat ons besef, lê vir ons almal voor weens die reaksie hierop.

“Ek voel jammer vir die Liverpool-sokkerspan, ek voel jammer vir die Haaie, ek voel jammer vir dié kompetisie, ek voel jammer vir die tydelike werkers by die Cape Epic. Dis ’n ramp.”

Hy erken dat hy geen mediese kenner is nie, maar hy hoop die reaksie is weldeurdag, want dit gaan ernstige nagevolge op baie mense se lewens hê.

“As jy ’n universiteit sluit, gaan die studente huis toe en kom oor ses maande terug. Die dosente word steeds betaal, die universiteit gaan steeds aan,” sê Dobson.

“Maar omdat die universiteit gesluit is, word iets anders gekanselleer. Die Cape Epic word gekanselleer, ’n karwasplek word gesluit, mense in armer gebiede verloor werk.

“Dit maak my baie bang. Wat is die verliese as Superrugby nie voortgaan nie?

“Ek vermoed dis tussen R10 miljoen en R30 miljoen. Ek weet nie of ons dit kan absorbeer nie, veral in Suid-Afrika en Australië. Ons is nie die Engelse Premierliga nie.

“Die spelers het nou bekommernisse wat werksekerheid betref. Dis nie asof hulle nou net in Europa kan gaan speel nie.

“Ons moes volgende week in Argentinië gaan speel het. Waarom kan 30 spelers nie net getoets word as hulle daar aanland nie, in isolasie bly, later weer getoets word, toets die Argentynse ouens, speel in ’n leë stadion . . . minstens het die uitsaaiers dan iets om te wys, daar is iets om oor te skryf.

“Dit is baie teleurstellend. Die groter prentjie is erger as die nederlaag vandag.”

Sean Everitt, die Haaie se breier, het ’n ander uitkyk gehad.

“Dit is ’n welkome blaaskans. Die ouens is doodmoeg. Hulle het alles gegee en doen dit nou al elke week,” sê Everitt.

Die Haaie het nou vir sewe agtereenvolgende weke sonder ’n loslootjie gespeel. Volgende week sou hul laaste kragmeting voor ’n blaaskans wees en die spelers kon heel moontlik weens uitbranding nie op hul beste gewees het nie.

“Ons ouens het die blaaskans nodig, maar ongelukkig kan ons nou nie die Chiefs volgende week verwelkom nie. Ek is seker die ondersteuners sou dit geniet het, maar ons kan dit nie beheer nie.”

Die gevalle van mense met Covid-19 in Suid-Afrika het Sondag tot 51 gestyg.

Meer oor:  Koronavirus  |  Stormers  |  Superrugby  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.