Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Rebels-baas braak gal oor SA se blasers

Gewoonlik word die vuilspel vir die speelveld gelos, maar die Rebels het dit sommer al op die vooraand van Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Haaie begin.

Dít by monde van hul uitvoerende hoof, Baden Stephenson, wat kla oor al die strafskoppe wat Suid-Afrikaanse skeidsregters op eie bodem teen oorsese spanne toeken.

AJ Jacobs, die Suid-Afrikaanse skeidsregter wat Saterdag se Superrugby-wedstryd tussen die Rebels en Haaie hanteer, se taak is bemoeilik deur uitlatings uit die Australiese span se kamp. Foto: Gallo Images

Saterdag se wedstryd word in Australië gespeel, maar raai wat? Die skeidsregter, AJ Jacobs, is ’n Suid-Afrikaner. En dit lyk asof daar op ’n onderduimse manier deur die media druk op hom geplaas word.

Stephenson se kommentaar is as volg: “Ek dink ons moet kollektief druk op Sanzaar plaas oor die belaglike statistiek wat die laaste 24 uur uitgekom het oor plaaslike skeidsregters in Suid-Afrika.

“Daar is te veel op die spel vir ons almal en dis moeilik genoeg om weg van die huis te wen. Na my mening is die integriteit van die kompetisie besig om ’n grap te raak en Sanzaar gaan wegkyk en dit nie hanteer word nie. Daar behoort ’n ondersoek te wees.”

Die plaaslike dagblad Australian het dié berig gepubliseer ná statistiek wat deur die webtuiste greenandgoldrugby.com gepubliseer is waarin gesê word Suid-Afrikaanse skeidsregters het oor die laaste drie jaar 159 meer strafskoppe aan plaaslike spanne as aan oorsese teenstanders toegeken.

Daardie stukkie statistiek is egter skeefgetrek deur ’n handvol wedstryde verlede jaar.

Egon Seconds het in die Leeus se wedstryd teen die Rebels op Ellispark slegs een strafskop teen die Leeus en 20 teen die Rebels toegeken.

In ’n wedstryd tussen die Leeus en Waratahs, het hy twee teen die tuisspan en 11 teen die besoekers toegeken.

Daar was verlede jaar ook ongelukkigheid oor Rasta Rasivhenge se beslissings teen die Highlanders en Crusaders, albei van Nieu-Seeland, teen onderskeidelik die Leeus op Ellispark en Bulle op Loftus.

Toe het die Leeus en Bulle onderskeidelik 3 en 4 strafskoppe afgestaan, terwyl albei Kiwi-spanne 12 keer gestraf is.

Seconds se blaaswerk “ten gunste” van die Leeus het verlede jaar kritiek van die All Blacks se (voormalige) afrigter, Steve Hansen, ontlok.

Sanzaar het egter verlede jaar die aantyging verwerp dat Suid-Afrikaanse blasers eenogig is.

* Sanzaar en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se kommentaar oor Stephenson se uitlatings sal bygewerk word wanneer dit ontvang word. - Saamgestel deur Stephen Nell

Meer oor:  Aj Jacobs  |  Rasta Rasivhenge  |  Egon Seconds  |  Sanzaar  |  Blasers  |  Superrugby  |  Rebels  |  Skeidsregters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.