Die Rebels het hulle Vrydag op hul tuisveld in Melbourne beter by die reënweer aangepas en hul Superrugby-wedstryd teen die Waratahs met 24-10 gewen.
In die nat toestande is daar baie geskop en daar is ook baie hanteerfoute begaan.

Marika Koroibete duik oor vir een van die Rebels se drie drieë Vrydag teen die Waratahs in Melbourne. Foto: Getty Images

Alex Newsome van die Waratahs bevind hom in ’n ongemaklike posisie teen die Rebels. Foto: Getty Images
Dit was nogtans ’n vermaaklike wedstryd waarin die Rebels se agtsteman Isi Naisarani en skrumskakel Ryan Louwrens veral uitgeblink het.
Naisarani het sy span op die voorvoet gekry met sterk lopies en Louwrens was nie net ’n blote skakel nie, maar het die Waratahs ook met sy onvoorspelbare spel verras.
Die Rebels moes verder as net 8-3 voorgeloop het met rustyd, maar die senter Billy Meakes se drie is nie toegelaat nie omdat die vleuel Marika Koroibete obstruksie gepleeg het.
Vroeg in die tweede helfte het die Waratahs daarin geslaag om vir ’n kort rukkie voor te loop, maar hulle kon nie die pas volhou nie.
Twee drieë deur die plaasvervanger-vleuel Andrew Kellaway binne die laaste tien minute het die tuisspan se oorwinning verseker.
Puntemakers: Rebels 24 (8): Drieë: Marika Koroibete, Andrew Kellaway (2). Strafdoele: Matt To’omua (3). Waratahs 10 (3): Drie: Harry Johnson-Holmes. Doelskop: Will Harrison (1). Strafdoel: Will Harrison (1). – Sportredaksie
Superrugby-bepalings
Superrugby-puntelyste
Superrugby-uitslae