Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Rebels en Reds speel gelykop – ná ekstra tyd

Tien minute se bykomende speeltyd was nie Vrydag in die Brookvale-stadion in Sydney genoeg om ’n wenner in die Australiese Super-reeks tussen die Rebels en die Reds op te lewer nie.

Dié spanne moes tevrede wees om met 18-18 elk gelykop te speel nadat die Rebels teen rustyd met 6-0 voorgeloop het.

Harry Wilson, die Reds se puik jong agtsteman, veg vir die bal in sy span se wedstryd teen die Rebels. Foto: Getty Images

Volgens die Australiese reeks se reëls word daar voorsiening gemaak vir twee helftes van vyf minute elk indien ’n wedstryd gelykop eindig. Die span wat dan eerste punte aanteken is die wenner.

Die Rebels was tot kort voor die einde van gewone speeltyd met 18-11 voor nadat hul senter Billy Meakes ’n onderskepdrie gedruk het.

James O’ Connor, die Reds se losskakel, wie se aangee deur Meakes onderskep is, het egter ander planne gehad.

Hy het reg voor die einde van gewone speeltyd ’n aanval geloods en die Reds se plaasvervanger-haker, Efi Ma’afu, het ’n drie gaan druk.

O’ Connor, wat skitterend op dreef was, het met die doelskop geslaag om die telling gelykop te maak. Bryce Hegarty, die Reds se heelagter, kon nie in bykomende speeltyd met ’n lang strafskop slaag om sy span te laat wen nie.

Matt To’omua, die Rebels se losskakel, staal hom vir ’n duikslag van Pone Fa’amuasili. Foto: Getty Images

Die Rebels-linkervleuel, Marika Koroibete, het vir ’n paar skitterende stukkies spel op die aanval sowel as die verdediging gesorg voordat hy die veld met ’n kopbesering verlaat het.

Hy is in die tweede helfte beseer toe die Reds-senter Hunter Paisamo hom met ’n hoogvat platgetrek het. Koroibete se kop het die grond hard getref.

Paisamo is vir sy hoogvat met ’n geelkaart gestraf. Sy sentermaat, Hamish Stewart, moes in die eerste helfte ook tien minute uitsit nadat hy vir siniese spel gestraf is.

Die wedstryd het in reënweer afgeskop en die nat bal het veral in die lynstane vir ’n groot gesukkel gesorg.

Puntemakers: Rebels 18 (6): Drieë: Reece Hodge, Billy Meakes. Doelskop: Matt To’omua (1). Strafdoele: To’omua (2). Reds 18 (0): Drieë: Filipo Daugunu, Efi Ma’afu. Doelskop: James O’ Connor (1). Strafdoele: O’ Connor (2).

• Die Western Force en die Waratahs meet Saterdag in Sydney in nog ’n wedstryd in dié reeks kragte.

Die wedstryd word van 11:15 op SuperSport 1 uitgesaai. Sportredaksie

Meer oor:  Rebels  |  Reds  |  Au-Reeks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.