Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Rebels het sterk Suid-Afrikaanse geur

Die Suid-Afrikaanse invloed van hul afrigter, Dave Wessels, is duidelik in die Rebels se spel sigbaar, sê die Haaie-senter André Esterhuizen.

Die Haaie kom Saterdag in die Mars-stadion, wat gewoonlik vir Aussie Rules-wedstryde gebruik word, in die stad Ballarat teen die Rebels te staan.

André Esterhuizen word deur Jordie Barrett vasgevat in die Haaie se kragmeting met die Hurricanes verlede week in Wellington. Foto: Getty Images

“Jy kan sien hul skopspel word deur ’n Suid-Afrikaner hanteer. Hulle hou ook nie daarvan om in hul eie gebied te speel nie en hulle hou daarvan om te rolmaal,” sê Esterhuizen.

Die Rebels het boonop verskeie gebore Suid-Afrikaanse spelers in hul geledere, soos Ruan Smith, Mees Erasmus, Ryan Louwrens, Cabous Eloff en die slot Gideon Koegelenberg, wat in 2019 nog vir die Haaie uitgedraf het.

Daar sal dus baie aan die Rebels wees wat vir die Haaie bekend voel. Esterhuizen weet wat om van hulle te verwag.

“Ek het nou al ’n paar keer teen die Rebels gespeel. Hulle is ’n goeie span, wat soms konserwatief kan wees.

“Hulle kan gevaarlik wees met die bal in die hand, gooi die bal rond en het ’n paar gevaarlike agterspelers. Ons het daaraan gewerk om sekere spelers te stuit en sodoende hul sterkpunte uit te skakel.

“Hul agterlyn is vol opwindende spelers, wat dit geniet om met die bal te hardloop.”

Die bedreigings sluit in die heelagter en kaptein, Dane Haylett-Petty, en die vleuel Marika Koroibete, een van die Wallabies se grootste uitblinkers in ’n teleurstellende Wêreldbeker-veldtog verlede jaar.

Die uitslag was nie goed nie, maar die veggees en durf wel. Daar is baie positiewe waarop ons kan voortbou en ook foute wat ons moet regstel.

Ná twee wedstryde in Nieu-Seeland, sal die Haaie nietemin dié kragmeting en volgende week s’n teen die Reds teiken vir oorwinnings. Sake kan beswaarlik meer skeefloop as verlede week teen die Hurricanes.

Toe het die Haaie Thomas du Toit net voor die afskop verloor, terwyl Boeta Chamberlain en Makazole Mapimpi binne die eerste 20 minute beseer is. Curwin Bosch was boonop nie daar nie – hy was terug in Suid-Afrika ná dood in sy familie.

“Daar was ontwrigtings, veral vroeg in die wedstryd, maar dit is geen verskoning nie. Ons kon steeds gewen het.”

Die Haaie het met 22-38 verloor.

“Die uitslag was nie goed nie, maar die veggees en durf wel. Daar is baie positiewe waarop ons kan voortbou en ook foute wat ons moet regstel.”

’n Pluspunt was die 21-jarige skrumskakel Sanele Nohamba se goeie spel op losskakel vir 60 minute. Hy moes Chamberlain noodgedwonge vervang.

“Ek was glad nie bekommerd nie. Ons het geoefen vir só ’n situasie. Sean (Everitt, afrigter) kyk na elke scenario wat kan gebeur. Sanele het ’n bietjie op losskakel geoefen.

“Hy is ’n goeie speler wat ewe tuis op nr. 9 en nr. 10 is. Hy ken die spel en het nou ’n bietjie ervaring op losskakel opgedoen.

“Dit is goed om spelers te hê wat tuis is in meer as een posisie.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  André Esterhuizen  |  Superrugby  |  Rebels  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.