Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Rebels wil jag maak op verstote Quade

Die Melbourne Rebels kan nuwe lewe blaas in die rugbyloopbaan van die verstote Wallaby-spelskepper Quade Cooper en is volgens hul kaptein, Will Genia, gretig om hom vir volgende jaar se Superrugby-reeks te werf.

Cooper, wat die Wallabies in 70 toetse verteenwoordig het, is vanjaar deur die Reds se afrigter, Brad Thorn, geïgnoreer en is steeds een van Australië se bes besoldigde spelers, al word hy gedwing om klubrugby in Brisbane te speel.

Quade Cooper onlangs in aksie vir Brisbane in Australië se provinsiale kompetisie. Foto: Getty Images

Genia, wat Cooper se skakelmaat by die Reds en Wallabies was, sê die Rebels se afrigter, Dave Wessels, het sy visier op Cooper gerig.

“Ek weet Dave is gretig om hom te kontrakteer. Hopelik kan hulle ’n ooreenkoms bereik,” sê Genia.

“Hy is ’n speler van wêreldgehalte en om so ’n spelskepper by die Rebels te hê, sal massief wees. Dis seker die grootste bestanddeel wat ons tans by die Rebels kortkom.”

Al is die Rebels se groep vanjaar versterk deur ’n gros spelers wat vanaf die Force, wat uit Superrugby geboender is, by hul aangesluit het, kon die span vir die agtste agtereenvolgende jaar nie die uitspeelwedstryde haal nie.

Die span het ook gesukkel om ’n gereelde losskakel te kry met die Wallaby-buitesenter Reece Hodge wat gereeld daar speelkans gekry het.

Die gereelde losskakel, Jack Debreczeni, het ook gesukkel om sy stempel af te druk.

Die Rebels het ook onlangs die Wallaby-losskakel/senter Matt Toomua gekontrakteer, maar hy sal eers laat in 2019 by die span aansluit nadat hy sy klubverpligtinge by Leicester in Engeland afgehandel het.

“Hodge het losskakel gespeel en goed gevaar, maar hy is meer van ’n senter, so om ’n losskakel te hê wat al ’n Superrugbytitel gewen het, sal ’n groot verskil maak.”

Al is die 30-jarige Cooper ’n uitgeworpene by die Reds, het hy in die verlede aangedui dat hy by franchise wil bly en sy plek in die beginspan terugwen.

Thorn, wat die Reds se leisels vanjaar geneem het, hou egter vol Cooper vorm nie deel van sy planne nie.

Die stap het veroorsaak dat Cooper steeds ’n groot las op die Reds se boeke is, met sy kontrak wat na raming meer as R7 miljoen per jaar werd is. – Reuters

Meer oor:  Will Genia  |  Rebels  |  Quade Cooper  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.