Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Reds klap Sunwolves met rekordsege

Die Reds het Saterdag kuikenmoord gepleeg toe hy die Sunwolves met 64-5 gebêre het in die Suncorp-stadion in Milton, Australië.

Die Reds-vleuel Henry Speight storm by die kantlyn af voordat hy vir James O’Connor weggestuur het vir een van sy span se drieë teen die Sunwolves. Foto: Getty Images

Lanklaas het ’n span só gelukkig gelyk om sy eerste tuiswedstryd van die seisoen te speel en lanklaas kon hy homself teen só ’n powere teenstander uitdruk.

Teen rustyd het die Reds reeds 36-0 voorgeloop, met die Sunwolves se verdediging wat gelek het asof hy ’n sak water is wat teen ’n paal vasgekram was.

Die Reds het ses keer in die eerste helfte agter die doellyn gaan draai en sy grootste telling in die eerste helfte van ’n wedstryd opgejaag sedert 2010, toe hy die Western Force met 50-10 geklop het nadat hy rustyd 36-3 voor was.

Dit was ook sy grootste oorwinning tot nog toe in Superrugby nadat hy sy vorige beste, die 53-3-sege oor die Rebels in 2011, verbygesteek het.

Die wenspan het sy grondslag voorlangs gelê en ’n bladsy uit die Jaguares se boek geneem nadat hy verlede week in Buenos Aires teen die Argentyne slae gekry het.

Toe het die Reds swaar geleef teen die Jaguares-masjien en vier drieë afgestaan omdat hy nie ’n antwoord op die rolmaalbewegings kon bied nie, maar dié slag het die Australiërs veral in die eerste helfte met hul teenstanders rondgestap op die veld.

Die voorry JP Smith, Alex Mafi en Taniela Tupou het boonop maalvleis van Chris Eves, Jaba Bregvadze en Conraad van Vuuren gemaak in die skrums.

Agterlangs het die skakelpaar, Tate McDermott en James O’Connor, baljaar, terwyl Henry Speight self al die spasie wat hy gegun is, geniet het.

Die Suid-Afrikaners in die Japanners se span was van die grootste oortreders.

Garth April is totaal en al uitoorlê deur O’Connor met sy sukkelende pak wat hom ook geen gunsies bewys het nie, terwyl die voormalige Springbok-senter JJ Engelbrecht hom gereeld skuldig gemaak het daaraan dat hy uit sy verdedigingslyn opskiet en spasie aan die buitekant vir die Reds geskep het.

Vir die tuisspan was dit boonop soete wraak vir die nederlaag van 28-63 wat hy in 2018 teen die einste Sunwolves gely het.

Volgende week sal die Haaie hul oorsese toer teen die Reds afsluit nadat die Natallers Saterdag die Melbourne Rebels met 36-24 gas gegee het.

* Puntemakers:

Reds 64 (36): Drieë: Liam Wright, Taniela Tupou, Hunter Paisami, Tate McDermott (2), Lukhan Salakaia-Loto, James O’Connor, Hamish Stewart, Joshua Nasser, Isaac Lucas. Doelskoppe: Jock Campbell (6), Bryce Hegarty.

Sunwolves 5 (0): Drie: Siosaia Fifita.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Reds  |  Sunwolves  |  Superrugby  |  Superrugby-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.