Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
RG werk nog aan sy ‘aftrap en skopwerk’

Jy kan nie anders as om onderlangs te glimlag wanneer die jong Bulle-reus RG Snyman vertel sy peil is nie te sleg nie.

Dié 24-jarige Bokslot was ’n kolos in die agttal op die Bulle se afgelope toer in Australasië en hy was sonder sy gelyke in die lynstane.

RG Snyman, slot van die Bulle, was ’n betroubare bron van besit in die lynstane op sy span se oorsese toer. Foto: Getty Images

Soveel so dat die legendariese Bakkies Botha verlede week verkondig het Snyman is tans verreweg die voorste slot in Suid-Afrikaanse rugby.

Vra jy die oud-Affie oor dié lof, gooi hy vinnig wal.

“Ek het nie iets daaroor te sê nie. Ek dink dit gaan heel goed op die oomblik, maar daar is ’n paar goedjies waaraan ek kan werk.”

Soos wat?

“Beslis my aftrap. Ek kan ook werk aan skopwerk,” skerts hy.

Die Bulle kom Saterdag op Loftus Versfeld in hul laaste tuiswedstryd in die Superrugby-reeks teen die Leeus te staan nadat hulle net een toerwedstryd Doer Onder – teen die Brumbies – verloor het.

“Ek dink coach Pote was die groot verskil. Hy was al daar met ’n wenspan en hy weet wat dit verg. Sy insette en leiding was baie waardevol op die toer.”

Human, die Bulle-breier, was in 2007 die voorspeler-afrigter toe die Bulle die eerste Suid-Afrikaanse span geword het wat die Super-titel verower het.

Hulle het daardie seisoen drie uit vyf wedstryde in Australasië gewen.

“Die manier hoe ons goed anders benader het, het ’n rol gespeel. Die ouens was meer ontspanne en die plan was om meer pret te hê. Dit het gewerk.”

Nou is al die fokus op Saterdag se grote op Loftus.

Die Leeus was lanklaas in die reeks aan die verloorkant in Pretoria, maar die Bulle het vroeër die seisoen op Ellispark die maanhare se oorheersing beëindig.

“Die Leeus sal nie veel van hulle spelstyl afwyk nie en dit sal weer harde werk wees om in die vaste fasette die oorhand te kry.

“Die wen op Ellispark was belangrik, maar dit sal Saterdag niks tel as ons op die veld draf nie.”

Dit is, soos ’n hele paar van sy spanmaats, Snyman se swanesang op sy geliefde rugbytuiste.

Hy het besluit om nie sy Bulle-kontrak te hernieu nie en het by Japanse klub Honda Heat geteken.

“Dit is hartseer. Maar ek het nog een wedstryd hier oor en elke vorige een was ’n massiewe eer en voorreg.

“Wie weet, daar sal dalk ná die tyd ’n traan of twee wees, maar ek fokus nie nou daarop nie.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Bulle  |  Rg Snyman  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.