Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Rob: ‘Ek skryf Mapimpi se naam 1ste neer’
Makazole Mapimpi op pad doellyn toe in die Haaie se Superrugby-kragmeting met die Leeus op Ellispark. Foto: Gallo Images

Hy is so beïndruk met die spel van sy linkervleuel, dat dit vir Robert du Preez ononderhandelbaar is dat Makazole Mapimpi later vanjaar in die Springbokke se Wêreldbeker-groep moet wees.

“Mapimpi sal die eerste ou wees wat ek in my Wêreldbeker-groep kies,” het Du Preez, die Haaie se afrigter, Donderdag op die aankondiging van die Haaie se span vir hul kragmeting met die Jaguares Saterdag in Durban gesê.

Mapimpi het verlede jaar sy Bok-buiging gemaak en goed vertoon voordat ’n kniebesering hom in die toets teen die Wallabies in Brisbane platgetrek het. Hy het die nasionale afrigter, Rassie Erasmus, só beïndruk dat Erasmus gesê het Mapimpi is verreweg die Springbok-speler wat die meeste verbetering getoon het.

Vanjaar sit die 28-jarige sneller sy skitterende spelpeil voort. Hy het reeds vier drieë in vanjaar se reeks gedruk.

Nóg ’n speler wat sal hoop om Erasmus se oog te tref, is die losvoorspeler Jean-Luc du Preez.

Hy het van ’n liesbesering herstel en is vir die eerste keer vanjaar by die Haaie se 23-tal ingesluit. Du Preez sal Saterdag teen die Jaguares op die plaasvervangersbank sit.

“Dit is fantasties om vir JL terug te kry,” sê Du Preez sr.

“Jean-Luc is bitter opgewonde om terug te wees. Hy behoort so tussen 20 en 25 minute speelkans te kry – dit hang af hoe hy hom gedra,” het dié losvoorspeler se pa en breier geskerts.

Die Springbok-flank Jean-Luc du Preez is terug in die Haaie-span nadat hy van ’n besering herstel het. Foto: Getty Images

Jean-Luc is in die voorseisoen aan die Engelse klubspan Sale Sharks geleen. Hy het egter oor Nuwejaar sy lies beseer en sedertdien nog nie weer gespeel nie.

Du Preez sr. het intussen slegs drie veranderinge aan die beginspan aangebring wat die Leeus met 42-5 op Ellispark afgeransel het.

Die stutte Coenie Oosthuizen en Beast Mtawarira kry albei ’n blaaskans, met Thomas du Toit en Juan Schoeman wat in die beginspan is.

“Ons het lank terug al beplan dat ons vir Coenie en Beast ’n blaaskans gaan gee vir hierdie wedstryd, want dit is ’n baie lang kompetisie.”

Die flank Jacques Vermeulen word ook ’n ruskans gegun. Die strydros Philip van der Walt sal in sy plek aan die kant van die skrum sak.

“Ons moet vir Jacques ’n blaaskans gee, so ons is baie geseënd dat Philip en nou JL ook weer kan speel.”

Du Preez sê sy span was verlede week besiel om goed te speel in Mtawarira se geskiedkundige 157ste Superrugby-wedstryd, maar daar is g’n tekort aan motivering vir Saterdag se kragmeting nie.

Daar was baie emosie verlede week, want die ouens wou bitter graag vir Beast speel.
Robert du Preez

“Daar was baie emosie verlede week, want die ouens wou bitter graag vir Beast speel.” Mtawarira het die Suid-Afrikaner geword met die meeste Super-stryde op sy kerfstok.

“Hierdie week is daar steeds motivering, want ons het aan die begin van die jaar gesê ons wil al ons tuiswedstryde wen.”

Daardie doelwit het in die derde week van die reeks al in die slag gebly, maar oorwinnings in die Haaie se oorblywende tuiswedstryde sal hulle in ’n goeie posisie laat om vanjaar weer vir die uitspeelrondes te kwalifiseer.

Haaie-span:
Curwin Bosch, Lwazi Mvovo, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Makazole Mapimpi, Robert du Preez, Louis Schreuder (k), Dan du Preez, Philip van der Walt, Luke Stringer, Hyron Andrews, Ruben van Heerden, Thomas du Toit, Kerron van Vuuren, Juan Schoeman. PLAASVERVANGERS: Fez Mbatha, Mzamo Majola, John-Hubert Meyer, JJ van der Mescht, Jean-Luc du Preez, Grant Williams, Kobus van Wyk, Aphelele Fassi.


Meer oor:  Makazole Mapimpi  |  Jean-Luc Du Preez  |  Durban  |  Afrigter  |  Rugby  |  Superrugby  |  Vleuel  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.