Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Robert glo op pad na pa en broers by Haaie

Soos die Whitelock-broers destyds by die Crusaders, gaan die Haaie dalk volgende jaar in die Superrugby-reeks deur die Du Preez-gesin oorheers word.

Gaan Robert du Preez hom volgende jaar by sy pa en twee broers by die Haaie aansluit? Foto: Gallo Images

Dis nou as die Durbanse span daarin slaag om die losskakel Robert du Preez by die Westelike Provinsie te gaps. Na verneem word, is dit so te sê ’n uitgemaakte saak.

Du Preez se broers, die tweeling Jean-Luc en Dan, speel vir die Haaie, terwyl die span ook deur hul pa, Robert sr., afgerig word.

Dié Du Preez-verwikkeling kom te midde van toenemende onsekerheid oor die toekoms van die Springboklosskakel Patrick Lambie, wat wéér langs die kantlyn is met harsingskudding.

Indien Lambie besluit om sy stewels weg te pak, sal die Haaie se diepte op losskakel uitgedun wees. Dis egter moeilik om te sien hoe Du Preez bo die Junior Springbok Curwin Bosch die span sal haal.

By die Stormers sal Du Preez, wat die res van die Superreeks met ’n besering gaan misloop, met Jean-Luc du Plessis en na verwagting ook die Suid-Afrikaanse o.20-speler Damian Willemse in ’n stryd om die nr. 10-trui gewikkel wees.

Brandon Thomson, ’n voormalige SA o.20-losskakel van die WP, se kop staan glo Skotland toe, waar Glasgow in sy dienste belang stel. Kurt Coleman en die Matie-losskakel Ernst Stapelberg is die ander losskakels tot die WP se beskikking.

In ander woelinge aan die werwingsfront word verneem dat die Bokvleuel Raymond Rhule glo ook in die Stormers se visier is.

Raymond Rhule, wat sy toetsdebuut verlede week teen Frankryk gemaak het, is glo in die WP se visier. Foto: Gallo Images

Hy het verlede naweek sy toetsdebuut teen Frankryk op Loftus Versfeld gemaak.

’n Ander vleuel van die Cheetahs, Sergeal Petersen, is glo ook op pad na die Kaap.

Die wysheid daarvan om twee blitsbukse te kontrakteer, kan egter bevraagteken word.

Een van die Stormers se groot tekortkominge vanjaar, wat klinies deur Nieu-Seelandse spanne aan die kaak gestel is, is juis sy swak verdediging in die wye kanale.

Sonder genoeg agterspelers wat kontaksituasies kan oorheers, gaan jy dié probleem nie effektief kan pak nie.

Nog ’n man wat glo in die WP se visier is, is die veelsydige Griekwa Clinton Swart. Hy kan binnesenter én losskakel speel en het vanjaar ook vir die Cheetahs in die Superreeks uitgedraf.

Daar word moontlik belangstelling in Swart getoon omdat die WP reeds snuf in die neus het dat die Haaie eersdaags die Huis van Du Preez kan wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.