Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Onstuitbare Kiwi’s smul aan Bulle

Daar is die spanne wat in die Superreeks meeding en dan is daar die magtige Crusaders.

’n Week nadat die Haaie die kampioen in Nieu-Seeland gewurg het, het die Kiwi’s Vrydagaand op Loftus Versfeld byna moeiteloos na vyfde rat versnel en die Bulle met 45-13 geslag in die Superreeks.

Crusaders
Die Crusaders se kookwater-vleuel Sevu Reece val Vrydagaand oor die Loftus-doellyn, met RG Snyman te laat om hom te keer. Reece het drie van sy span se sewe drieë gedruk.

Hoewel die besoekers, wat teen die rustyd reeds 26-6 in beheer was, se dissipline en hanteerwerk later in die wedstryd plek-plek gelol het, was daar ligjare tussen die spanne.

Toe die Crusaders twee jaar gelede hier meer as 60 punte teen die Bulle opgestapel het, het hul afrigter, Scott Robertson, agterna nie geskroom om te sê dat die Suid-Afrikaanse spelers duidelik nie fiks genoeg is om sukses in die kompetisie te behaal nie.

Hulle het Vrydagaand dieselfde plan gehad en het voor daar gaan rus is teen ’n geweldige pas gespeel. Die opbrengs was min of meer dieselfde.

Geen ander span kan so berekend en klinies toeslaan soos die Crusaders nie. Die kampioen se afwisseling op die aanval – met die losskakel Richie Mo’unga wat spesiale vermelding verdien – is uit die handleiding uit.

Sevu Reece, die ’Saders se regtervleuel, het die Bulle in die proses by drie geleenthede onder die pale laat staan.

Dit was ’n aand wat Handré Pollard en sy span moes wys dat dit ’n welverdiende tweestryd tussen die twee voorste spanne op die reeks se algehele puntelys is én hulle vir die eerste keer in baie seisoene weer ’n ware aanspraakmaker is.

Die uiteinde is nogmaals ’n ontnugtering vir Suid-Afrikaanse rugby.

Net wanneer dit blyk of die gaping tussen die Kiwi’s en die res aan die krimp is, kom die Crusaders Loftus toe en wys die teendeel met soveel oorgawe. 

Dit is nie asof die durf en toewyding by die tuisspan ontbreek het nie. Die kolos Duane Vermeulen het byvoorbeeld een van sy beter vertonings in ’n Bulle-trui gelewer en het reeds in die eerste helfte drie keer die Crusaders se besit op die grond gebuit. 

Tog flikker die gevaarligte vir die Bulle, wat sover in die twee tuiswedstryde teen ’n Nieu-Seelandse teenstander altesame 101 punte deurgelaat het.

Dit is ongewenste statistiek vir ’n span wat Saterdag op die vliegtuig klim vir hulle toer na Australasië.

In die tweede helfte was daar ’n effense oplewing en die senter Burger Odendaal het weens die druk oorgeduik vir sy span se enigste drie.

Dit was gans te min te laat teen ’n span wat onstuitbaar op koers is na ’n tiende Super-kroon.

Puntemakers

Bulle 13 (6): Drie: Burger Odendaal. Strafdoele: Handré Pollard (2). Doelskop: Pollard.

Crusaders 45 (26): Drieë: Richie Mo’unga (2), Mitchell Dunshea, Sevu Reece (3), Scott Barrett. Doelskoppe: Mo’unga (5).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Crusaders  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.