Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Roelof sê Bulle het hom stief behandel
In die Leeus se oefentrui is daar weer ’n glimlag op Roelof Smit se gesig. Foto: Gallo Images

Hy is nie op ’n goeie voet weg by die Blou Bulle nie, erken Roelof Smit (26), ’n flank wat die Jukskeirivier oorgesteek het en nou sy rugby by die Leeus in Johannesburg gaan speel.

“Die Bulle het my nie vanjaar ondersteun nie. Ek voel hulle het my nie goed behandel nie,” het Smit, ’n boorling van Queenstown in die Oos-Kaap, geen doekies omgedraai oor sy gevoel teenoor sy voormalige werkgewer nie.

“Ek het wel met ’n paar beserings gesukkel, maar dit het vir my gevoel asof die Bulle hul rug op my gedraai het en wou my net nie enige speelkans gee nie,” het Smit ruiterlik erken.

“Al is ek nou net nog ’n ruk lank hier by die Leeus, is ek mal daaroor en voel dit vir my of ek omtrent al drie jaar lank hier speel,” sê Smit, ’n voormalige Junior Springbok.

Hy voel die behandeling wat hy by die Bulle gekry het, veral in die lig dat hy in ’n stadium baie naby aan Springbok-rugby was voor sy beserings sy loopbaan tydelik tot stilstand gebring het, laat ’n baie slegte smaak in sy mond.

Daar was geen kommunikasie van die Bulle met my nie en ek het gevoel ek is daar in die donker.
Roelof Smit

“Daar was geen kommunikasie van die Bulle met my nie en ek het gevoel ek is daar in die donker. Ek wou vanjaar net weer graag speel ná my terugkeer, maar dit was my nie beskore nie,” sê hy.

“Ek weet waartoe ek in staat is en hoe ek kan speel, en by die Bulle is ek net nie daardie kans gegee om dit te wys nie. Dit was uiters teleurstellend en baie frustrerend,” sê hy.

“Al wat ek nou wil doen, is om net weer te kan speel en die gras te kan ruik op ’n rugbyveld. Ek wil die Leeus nou kan dien en weer ’n kans kry om te speel en te wys wat ek kan doen.

“Ek het nie baie verwagtinge nie, maar omdat ek al so naby aan ’n Springbok-groep was, motiveer dit my baie om hier by die Leeus weer daardie vlak te bereik.

Jannie du Plessis, gewese Springbok- en Haaie-vaskopstut, wat nou vir die Leeus gaan opdraf. Foto: Gallo Images

“Jy kan ook sien hoe anders dinge hier by die Leeus gedoen word. Hier word daar baie hard gewerk. Op alle vlakke. Geestelik, fisiek en watter vlak daar ook al is. In die nege jaar wat ek by die Bulle was, het ek dalk in ’n gemaksone verval. Hierdie verandering het ek beslis nodig gehad in my lewe.

“Ek is só gelukkig om hier by die Leeus te wees. Dit is asof daar nou ’n nuwe rugbywêreld vir my oopgegaan het. Ek is ook mal daaroor om na al die rugbystories van Jannie du Plessis (die Leeus se stut-aanwins) te luister.

“By iemand so ervare soos hy wil jy net leer en wanneer ek in sy teenwoordigheid is, wil ek net soos ’n spons wees en alles opsuig,” sê hy.

“Die Leeus het dit ook duidelik gemaak hulle wil my help om die beste ses-flank in die land te word. Dit is die soort van inspirasie wat my rugbyloopbaan nodig het en waarom ek my alles vir hierdie span sal gee,” sê Smit.

* Dié flank was in 2016 op die Bokke se jaareindtoer, maar het nie Bok-kleure verwerf nie.

Meer oor:  Roelof Smit  |  Jannie Du Plessis  |  Pretoria  |  Johannesburg  |  Junior Springbokke  |  Rugby  |  Bulle  |  Superrugby  |  Leeus  |  Flank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.