Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Ross bly by Leeus en soek Bok-trui terug

Die bloeding is tydelik gekeer by die Leeus, met twee van hul Springbokke wat Dinsdag bevestig het dat hulle nie deel van die uittog by dié rugbyspan gaan wees nie en steeds saam met die trop sal brul.

Die skrumskakel Ross Cronjé Dinsdag by die Leeus se oefening in die Johannesburg-stadion. Foto: Gallo Images

Die skrumskakel Ross Cronjé en die vleuel Courtnall Skosan het nuwe kontrakte gesluit en sal nog vir die afsienbare tydperk in die Rooibonttrui gesien word.

Cronjé se nuwe kontrak is vir die volgende twee jaar.

“Ek gaan nêrens heen nie en bly net hier by die Leeus,” sê hy.

“Ek droom steeds daarvan om deel te wees van die Wêreldbekergroep en om dit reg te kry moet ek Superrugby speel en my stempel daar afdruk.

“Ek geniet boonop die lewe hier en dit is so naby aan die Bosveld en ook die see, terwyl ek ook gek is oor die sonskyn en nie ’n begeerte het om die land te verlaat en oorsee te gaan speel nie,” sê Cronjé.

“Ek dink as jy slim te werk gaan, hoef die oorsese geldeenhede nie ’n lokaas te wees nie en kan jy vir jou ’n gerieflike lewenstyl in Suid-Afrika skep,” sê hy.

“Tog kan ek sien hoekom van die spelers wat oorsee gaan dit doen, want hulle wil voorsiening maak vir hul gesinne en dit is hul goeie reg.”

Cronjé was in 2017 die Bokke se eerstekeuse-skrumskakel, maar het nie vanjaar Rassie Erasmus se Bok-groep gehaal nie.

Die laaste ruk was dit net slegte nuus wat uit die Leeus-kamp gekom het met Jaco Kriel, Rohan Janse van Rensburg, Ruan Dreyer en Franco Mostert wat almal aangekondig het dat hulle ná die Superreeks op pad is Engeland toe.

Ek dink as jy slim te werk gaan, hoef die oorsese geldeenhede nie ’n lokaas te wees nie en kan jy vir jou ’n gerieflike lewenstyl in Suid-Afrika skep.
Ross Cronjé

Daar word ook bespiegel dat Andries Coetzee en Jacques van Rooyen moontlik hul loopbaan oorsee gaan voortsit.

Vir Cronjé bied Saterdag se stryd teen die Bulle op Ellispark ’n gulde geleentheid om Erasmus (Bok-hoofafrigter) aan sy deugde te herinner, want hy kom teen twee nr. 9’s te staan wat vanjaar bo hom by die Bokke gekies is – Embrose Papier en Ivan van Zyl.

Cronjé sê dit sal ’n uitdaging wees om teen spelers van hul gehalte te staan te kom.

“Jy wil jouself altyd meet teen spelers wat op die hoogste vlak speel en vir my is dit ’n kans om my eie kleim af te steek,” sê hy.

Cronjé erken die Leeus het nog nie vanjaar die gehalte rugby gespeel waartoe hulle in staat is nie, maar hy voel hulle sal op die regte tyd die vertonings lewer wat van ’n kampioenspan verwag word.

“Hopelik is dit net ’n kwessie van tyd voor ons kliek. Die Bulle gaan beslis vir ons kom en ons staal ons vir ’n kwaai aanslag. Hulle kom hierheen om ’n punt te bewys,” sê Cronjé.

Superrugby-bepalings 

Superrugby-puntelyste 

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Courtnall Skosan  |  Leeus  |  Superrugby  |  Ross Cronjé
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.