Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Senter Ruhan storm enduit saam
Ruhan Nel op pad doellyn toe vir die Stormers in verlede jaar se Superrugby-wedstryd teen die Rebels in Melbourne.Foto: Getty Images

Ruhan Nel het vrese besweer dat hy nie enduit deel van die Stormers se veldtog in vanjaar se Superrugby-reeks gaan wees nie.

“Ek gaan eers ná ons Superrugby-veldtog weer vir die Blitsbokke beskikbaar wees,” sê hy.

Daar is wyd berig dat Nel die Stormers voor die uitspeelrondes sal verlaat met die oog op voorbereiding vir die Olimpiese Spele in Tokio, maar hy sê dit was dalk ’n kommunikasie-fout.

“Sover ek weet, sal ek by Superrugby-betrokke wees totdat ons dit óf wen óf in die uitspeelrondes eindig,” sê hy.

Die Superrugby-eindstryd is op 20 Junie en die Spele begin 24 Julie.

Nel se uitlatings sal as ’n verligting kom vir die Stormers se afrigter, John Dobson, wat nie veel diepte op buitesenter het nie.

Hy is wel die afgelope naweek goed gedien deur die kombinasie van Nel en die Walliese reus Jamie Roberts.

Nel self kan ook nie vir meer vra as om sy groei in die vyftienmankode deur ’n deurwinterde man soos Roberts voort te sit nie.

“Dit het goed gegaan in ons eerste wedstryd, maar kan nóg beter. Ons het voor die wedstryd nog net vir ’n week saam geoefen en dit gaan tyd neem om goeie samespel te vestig,” sê hy.

Jamie Roberts (links) en Ruhan Nel, die Stormers se verwagte senterpaar vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Bulle op Nuweland, knoop ’n geselsie aan op die Kapenaars se oefenveld in Bellville.Foto: Gallo Images

“Vir ’n beter begin kon ons nie gevra het nie. Jamie het al oor die wêreld heen gespeel en jy sal dom wees om nie sy kennis te ontgin nie.”

Met ’n wedstryd teen die Bulle wat Saterdag voorlê, sê Nel dat die Stormers lankal opgehou het om hulself op die skouer te klop vir die afgelope naweek se weghol-oorwinning oor die Hurricanes.

“Daar is baie gesê oor die 27-0, maar ons het dit Saterdag reeds agter ons gesit,” sê hy.

“Teen die Bulle is dit altyd taai. Hule het opwindende spelers en Morné Steyn beheer die wedstryd baie goed. Ons sal dom wees as ons hulle onderskat.”

* Intussen het die Hurricanes teruggekap ná die Stormers se afrigter, John Dobson, se kritiek op hul geniepsige spel oor die naweek.

“Die kritiek het ons onkant betrap en daar’s ’n groot glashuis aan die ander kant,” het Chris Gibbes, ’n hulpafrigter van die Hurricanes, luidens ’n berig deur stuff.co.nz gesê.

“Ons het die beeldmateriaal bestudeer en daar’s voorvalle van TJ Perenara wat van die bal af gespeel word en ouens wat houe teen die kop kry. Hy (Dobson) is geregtig op sy mening, maar dis verrassend en ’n bietjie teleurstellend.”

Hy (Dobson) is geregtig op sy mening, maar dis verrassend en ’n bietjie teleurstellend.
Chris Gibbes

Gibbes meen ook die Hurricanes is stief behandel deur die skeidsregter, Jaco Peyper, vir die geelkaart aan Vaea Fifita vir ’n skouerloop op Scarra Ntubeni.

“Ons het etlike kere daarna gekyk en dit lyk nie soos iets wat ’n geelkaart regverdig nie. Dis Jaco se besluit en ons moet daarmee saamleef,” sê hy.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Jamie Roberts  |  Ruhan Nel  |  Kaapstad  |  Pretoria  |  Rugby  |  Bulle  |  Superrugby  |  Senter  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.