Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
SA rugby: Olikheid ná die vrolikheid?

Die Springbokke se Wêreldbeker-triomf sal plaaslike ondersteuners se verwagtinge aanwakker, maar hulle moet versigtig optimisties wees, sê Pote Human, die Bulle se breier.

Die groot getal Springbokke wat in 2020 pleks van Superrugby oorsee gaan speel, sal ’n impak hê op die vier Suid-Afrikaanse franchises, maan Human.

Die ervare Bokke Duane Vermeulen (links) en Schalk Brits sal nie meer volgende jaar vir die Bulle uitdraf nie. Foto: Getty Images

“Ek dink al ons spanne, afgesien van die Stormers, verloor baie staatmakers en ervaring. In Superrugby kan jy nie sonder ervaring wees nie en dit is waarom die Leeus ’n ou soos Jannie du Plessis wil kontrakteer,” sê hy.

“Enige span het harde, ervare manne nodig. Met al die ervaring wat vanjaar verlore gaan, gaan 2020 ’n uitdagende seisoen vir die Suid-Afrikaanse spanne in die kompetisie wees.”

Onder die Stormers se seëvierende Wêreldbeker-Bokke naamlik Damian de Allende, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Siya Kolisi, Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Steven Kitshoff, Frans Malherbe en Bongi Mbonambi, is dit net De Allende (Panasonic Wild Knights) en Etzebeth (Toulon) wat nie aanstaande jaar in die Superreeks speel nie.

Met al die ervaring wat vanjaar verlore gaan, gaan 2020 ’n uitdagende seisoen vir die Suid-Afrikaanse spanne in die kompetisie wees.
Pote Human

Die Bulle daarenteen, staan nie minder nie as ses Springbokke – Jesse Kriel, Handré Pollard, Duane Vermeulen, RG Snyman, Lood de Jager en Jason Jenkins – aan oorsese spanne af. ’n Sewende Bok, die veteraan-haker Schalk Brits, het boonop uitgetree. Pollard, Vermeulen en De Jager het die Bulle vanjaar in die Superrugby-reeks aangevoer.

Die Haaie het self ’n groot leemte met die vertrek van die veteraan Tendai Mtawarira (uitgetree), Coenie Oosthuizen, Akker van der Merwe en die Du Preez-broers, Robert, Dan en Jean-Luc.

Daar is by die Leeus steeds onsekerheid oor wanneer die beseerde Warren Whiteley weer op sy pos gaan wees, terwyl die Bok-haker Malcolm Marx eers in 2021 terugkeer.

Net om sake by Loftus Versfeld te bemoeilik, oefen spelers soos Morné Steyn, Juandré Kruger, Josh Strauss, Ruan Steenkamp en Embrose Papier nog nie saam met die Bulle nie. Dit bring mee dat daar nog nie ’n besluit geneem is oor die span se kaptein vir 2020 nie.

Human sê daar sal eers vroeg in Januarie daaroor koppe bymekaar gesit word wanneer Steyn en Kruger hul opwagting maak.

Pote Human, hoofbreier van die Bulle. Foto: Getty Images

Die Bul-breier sê intussen die groot groep belowende jong spelers in die span se vergrote Superrugby-groep, maak hom opgewonde.

“Die ouens werk baie hard en dit is lekker om soveel entoesiasme en energie te sien. Ek is sover baie tevrede met ons voorseisoen. Ons fokus veral op kondisionering en vaardighede, wat op die hoogste vlak moet wees om sukses te behaal.”

Die feit dat daar nuwe afrigters by die ander drie franchises (John Dobson, Stormers, Ivan van Rooyen, Leeus, en Sean Everitt, Haaie) is, word beskou as ’n gulde geleentheid vir Rassie Erasmus, die nasionale direkteur van rugby, om nouer samewerking te vestig.

Human, wat self slegs sy tweede seisoen as hoofafrigter ingaan, sê daar is “al vanjaar lekker saamgewerk”.

“Ek het nog nie met Rassie gepraat nie, maar ek glo daar sal weer leiding en bystand van bo af wees.”

Meer oor:  Pretoria  |  Pote Human  |  Bokke  |  Springbokke  |  Jannie Du Plessis  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.