Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Sage nie spyt, maar kry Blitse jammer

Daar is steeds ’n hardnekkige mite dat sewesspelers dit moeilik vind om die oorgang na 15-man-rugby te maak.

Dylan Sage verlede maand op die aanval teen die Stormers in die Kaapstad-stadion. Foto: Gallo Images

Nugter weet hoekom, want hoewel daar altyd uitsonderings sal wees, het spelers soos Kwagga Smith, Ruhan Nel en Rosko Specman al dié teorie verkeerd bewys.

Ook die voormalige Blitsbok Dylan Sage was Saterdag op Ellispark ewe tuis in die Bulle se middelveld toe hulle die Leeus in die Superreeks slae gegee het.

“Kom ons hoop dit bly so. Ek dink dit is dalk nog te vroeg om te sê dat ek dit (die oorgang) bo alle twyfel gemaak het.

“Iemand soos Kwagga het gewys hy kon dit onder die knie kry.

“Dit is nie maklik nie. Nie almal gaan dadelik kliek nie en jy moet geduldig wees,” sê Sage.

Hoewel hy eerder as ’n buitesenter gereken word, het Sage ook in die voorseisoen die nr. 12-trui gekry.

Dit was in verlede maand se losmaker teen die Haaie in Ballito wat Sage die Bulle-breier, Pote Human, finaal van sy deugde oortuig het.

Sage vertel hy was nog nie ’n dag spyt dat hy die Bulle bo die Blitsbokke verkies het nie.

“Ek geniet dit baie hier. Die spelers het my vinnig deel van die groep laat voel en dit is lekker om saam met die afrigtingspan te werk.

“Ek het al baie geleer die laaste ses maande en dit het gehelp dat ek in die Curriebeker-kompetisie kon speel en ’n goeie voorseisoen gehad het.”

Sage is grappenderwys gevra of hy bekommerd is dat die immergroen-Bok Schalk Brits dalk sy plek in die agterlyn kan neem.

“Kyk, soos Schalk Saterdag gespeel het, is enige posisie in die span syne.

“Hy is ’n kampioenmens en ’n kampioenspeler, en ook baie waardevol van die veld af. Hy kom elke dag met ’n groot glimlag hier (op Loftus Versfeld) aan en werk baie hard. Hy is baie waardevol vir ons.”

Hy en Jesse Kriel pantser hulle vir Saterdag se afspraak met die Haaie se Springbok-senters André Esterhuizen en Lukhanyo Am.

“Al die spanne is gedug in die kompetisie. Ons het die laaste ruk gesien as jy net ’n bietjie van stryk af is, gaan dit nie jou dag wees nie.

“Die Haaie het nie swakpunte nie, veral nie in die agterlyn nie.”

Sage sê ook ondersteuners moet begrip hê vir die Blitsbokke, wat die seisoen sukkel.

“Dit is moeilik vir die ouens. Die potensiaal is daar, maar dit is nie so eenvoudig nie.

“Ons was gelukkig om ’n goeie kern vir vier of vyf seisoene te hê, terwyl van die ander spanne daarmee gesukkel het.

“Sommige van die spanne het nou daardie kontinuïteit gekry en die skoen is nou aan die ander voet vir ons.

“Dit gaan tyd neem en daar sal ’n paar wisselvallige vertonings wees, maar coach Neil (Powell) weet wat hy doen.

“Die ondersteuners moet geduldig wees, want ek glo die span sal al aan die einde van die reeks beter vaar.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Sewesrugby  |  Dylan Sage  |  Blitsbokke  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.