Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Sanzaar moker Bulle se Schalk Brits

Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, dreig om die Springbok-haker Schalk Brits met R100 000 te beboet oor sy uitlatings oor sy tugverhoor ná sy onderonsie met die Haai-haker, Akker van der Merwe.

Die Blou Bulle Maatskappy het die week ’n skrywe van Sanzaar se regsafdeling gekry waarin hulle die Bulle inlig dat Brits aangekla is oor sy opmerkings dat sy straf “onregverdig” was, asook sy uitlatings wat die regverdigheid van die tugproses bevraagteken.

Daar gaan jy. Schalk Brits word deur die skeidsregter, Mike Frazer van Nieu-Seeland, afgestuur vir sy aandeel in die vuisgeveg met Akker van der Merwe. Foto: Gallo Images

Brits word daarvan beskuldig dat hy Sanzaar en die Superrugby-reeks in oneer gebring het met sy uitlatings in die media, dat hy die gedragskode van die kompetisie oortree het, dat hy die eer van die Superrugby-kompetisie en sy dissiplinêre prosesse skade berokken het en dat hy die reël oortree het dat spelers en afrigters nie die besluite van wedstryd- en dissiplinêre amptenare kritiseer nie.

Die skokkende optrede van Sanzaar kom etlike weke nadat die beheerliggaam ook vir Willem Strauss, die Blou Bulle se president, aangekla het vir sy opmerkings op ’n WhatsApp-groep. Strauss het sy misnoeë met Brits se skorsing van vier weke in die WhatsApp-boodskap uitgespreek. Strauss het die skorsing as “belaglik” beskryf. Die Bulle se president is in die Sanzaar-verhoor na aanleiding van sy WhatsApp-boodskap onskuldig bevind.

Brits is vir sy aandeel in die geveg met Van der Merwe vier weke lank geskors, terwyl Van der Merwe drie weke geskors is. Brits het weens vorige oortredings ’n swaarder straf gekry.

Rapport het egter intussen by ’n ingeligte bron na aan die dissiplinêre proses gehoor dat die voorlegging, wat namens Brits aan die dissiplinêre komitee gedoen is, “slordig en ’n verleentheid” was.

Brits het afgewyk van die normale prosedure om ’n prokureur te gebruik wat deur die Spelersvereniging MyPlayers aangestel word. Hy is deur ’n prokureur verteenwoordig wat deur die Blou Bul Maatskappy aangestel is.

Brits sê dit was nie sy besluit om teen die straf te appelleer nie, en ook nie om die prokureur van die BBM aan te stel nie. Die prokureur wat hom verteenwoordig het, was Gert-Andries van der Merwe, die man van die BBM se regsadviseur, Wilhelmien.

’n Mens wonder soms hoe ’n speler van Australië ’n straf van twee weke kry en ’n Suid Afrikaner vier weke vir dieselfde soort oortreding?

Brits het aan joernaliste gesê hy het aan die korste ent getrek in sy verhoor en Sanzaar aangeraai om weer na die prosesse te kyk om dit meer regverdig te maak. Brits was veral ongelukkig oor die feit dat twee vorige voorvalle – in 2013 en 2016 – teen hom getel het en sy skorsing effektief vyf weke gemaak het, terwyl Van der Merwe, wat meer houe in die geveg geplant het, se skulderkenning hom net drie weke gekos het.

“Ek dink daar moet ter wille van die volgende speler wat in ’n soortgelyke posisie gaan wees, veranderings kom in hoe sulke prosesse hanteer word.

“ ’n Mens wonder soms hoe ’n speler van Australië ’n straf van twee weke kry en ’n Suid Afrikaner vier weke vir dieselfde soort oortreding? Ek voel ons trek dikwels aan die kortste ent.”

Sanzaar het nog nie ’n datum vir sy verhoor vasgestel nie, of gesê of hul brief ’n blote waarskuwing van moontlike optrede is nie.

Die BBM wou nie kommentaar oor die kwessie lewer nie.

Meer oor:  Tugverhoor  |  Schalk Brits  |  Bulle  |  Akker Van Der Merwe  |  Sanzaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.