Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Saru maak Cheetahs en Kings se lot bekend

Ná maande se bespiegeling is dit nou amptelik: Die Cheetahs én Southern Kings se Superrugby-vlerke is geknip.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het Vrydagoggend bevestig dat die Cheetahs van volgende jaar af nie meer Superrugby sal speel nie. Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het Vrydagoggend, kort voor die aanvang van ’n buitengewone algemene vergadering in Kaapstad, bevestig dat dié twee franchises “nuwe geleenthede oorsee” gaan nastreef.

Dít beteken dat die Leeus, Stormers, Bulle en Haaie Suid-Afrika se enigste vier deelnemers in ’n meer vaartbelynde Superreeks in 2018 gaan wees.

Hoewel die Cheetahs ’n kontrak met Saru gehad het om tot 2020 Superrugby te speel, het dié unie se raad tot ’n vergelyk met die nasionale beheerliggaam gekom om sy deelname daaraan op te sê, het ’n Saru-verklaring gelui.

Dié verklaring het voorts gesê dat dié besluit ingevolge Saru se grondwet op die buitengewone algemene vergadering bekragtig moet word.

Alles dui daarop dat die Cheetahs nou hul heil in ’n vergrote Pro12-reeks in Europa gaan vind, maar ’n amptelike aankondiging moet nog daaroor gedoen word.

Daar word lank reeds bespiegel dat die Kings ook in dié reeks gaan speel. Dít moet egter ook nog bevestig word.

Die president van die Oostelike Provinsie Rugbyunie, André Rademan, het in ’n afsonderlike verklaring gesê die geleentheid vir die Southern Kings om hulle in ander toestande te toets, laat sy “mond water”.

André Rademan, president van die OP Rugbyunie, is opgewonde nuwe geleenthede wat vir die Southern Kings voorlê.Foto: Michael Green

“Dit was vir ’n paar seisoene ’n wipwaentjierit, maar dit is nou duidelik dat daar ’n geskikte wyse is om rugby in die Oos-Kaap vorentoe te neem en op die grondslag wat gelê is te bou,” sê Rademan.

“Ons is nie daarteen geklant om by ’n nuwe kompetisie aan te sluit nie. Met al die rolspelers wat in dieselfde rigting trek, kan ons sukses en opgewondenheid na Oos-Kaapse rugby bring”.

In gesprekke agter die skerms met van die rolspelers is dit duidelik dat die Kings dit nie as ’n klap in die gesig sal beskou om nie meer deel van Super-rugby te wees nie.

Daar heers ’n gees van opgewondeheid oor die nuwe verwikkelinge.

Nie-amptelik word daar gesê dat die Kings ook eindelik groot borgskappe kan kry indien daar die versekering is dat hulle vir ’n paar seisoene in ’n reeks kan speel.

As die swaard nie ná ’n enkele seisoen bo die span se kop hang nie, het die Kings ook ’n beter kans om spelers langer te kontrakteer en as ’n span te verbeter.

Die Kings se vertonings hierdie seisoen, toe die afrigter, Deon Davids, darem ’n voorseisoen gehad het om sy span fiks te kry, het Oos-Kaapse rugby ook baie positief beïnvloed.

* Meer volg later.

Meer oor:  Pro 12  |  Cheetahs  |  Superrugby  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.