Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Sege was broodnodig, sê Bulle-breier
Die Springbok-losskakel Handré Pollard is stadig maar seker besig om sy beste spelpeil te herwin. Hy was een van die Bulle se uitblinkers in hulle sege met 26-13 oor die Jaguares op Loftus Versfeld.Foto: Gallo Images

’n Oorwinning was lanklaas só betekenisvol soos Saterdagaand se Superrugby-sege oor die Jaguares, sê Nollis Marais, die Bulle se afrigter.

Dit was nie veel van ’n skouspel nie, maar die Bulle het net genoeg gedoen om dié Argentynse kat se stert met 26-13 op Loftus Versfeld te knoop.

“Die span het dit regtig nodig gehad vir die selfvertroue ná ons nagmerrie-toer.

“Dit is baie belangrik dat jy jou tuiswedstryde wen en des te meer omdat ons net een uit ses wedstryde gewen het tot dusver. Dit was ’n grote vir ons.”

Marais was hoogs tevrede met die toewyding en durf waarmee sy span gespeel het.

“Jy kan gewoonlik sien die ouens se ingesteldheid is reg in die manier waarop hulle verdedig.

“Ons het Donderdag lank gesels oor die behoefte dat die spelers vir mekaar moet speel. Die manne wóú speel.”

Ons gaan meer akkuraat moet wees. Die drie punte wat ons op die aanval kry, moet sewe punte word.
Nollis Marais

Dit gesê, die Bulle se afronding ontbreek steeds.

“Ons gaan meer akkuraat moet wees. Die drie punte wat ons op die aanval kry, moet meer gereeld sewe punte word.

“Dit is iets waarmee ons nog die slaag nie. Wanneer ons voor is moet ons die teenstanders bêre.”

Die Bulle-breier sê hy was bekommerd dat sy spelers, ná hulle eers Maandag uit Tokio teruggekeer het, pap sou wees in die tweede helfte.

Daar is boonop vooraf besluit om die kaptein, Adriaan Strauss, rondom die 55ste minuut te vervang om Jaco Visagie speeltyd te gee.

Strauss is vervang met die Jaguares wat in daardie stadium ’n agterstand van 3-16 na 13-16 laat krimp het.

“Ek was baie beïndruk met die wyse waarop Hanro (Liebenberg) en Pollie (Handré Pollard) die leierskap oorgeneem het.

“Dit is goed vir die toekoms wanneer jy sulke jong leiers in jou span het.”

Dit is goed vir die toekoms wanneer jy sulke jong leiers in jou span het.
Nollis Marais

Daar is ’n groot gros Bulle wat met hulle beste vertonings die seisoen laat waai het.

In die agterlyn was Jesse Kriel fluks en skerp op die aanval, terwyl die Bulle-skakelpaar, Pollard en Piet van Zyl, self knap was.

Trevor Nyakane en Lood de Jager was voorlangs die keur in ’n agttal wat tereg sonder uitsondering ingeklim het teen internasionale hardebaarde soos Leonardo Senatore, Pablo Matera en Agustín Creevy.

“Ek dink Trevor het een van sy beste vertonings gelewer en nie net in die skrums nie.

“Baie mense het voorspel hy gaan dit nie maak op vaskop nie, maar hy was briljant Saterdagaand teen ’n gedugte skrumpak.

“Jesse was uitstekend. Hy was nog nie vanjaar op sy beste nie en ek het toevallig die afgelope week met hom daaroor gesels.

“Dít is die Bok wat ek ken en ek is bly vir Jesse,” het Marais gesê.

Puntemakers: Bulle 26 (13) Drieë: Travis Ismaiel, Lood de Jager. Strafdoele: Handré Pollard (4). Doelskoppe: Pollard (2).

Jaguares 13 (3) Drie: Gonzalo Bertranou Strafdoel: Santiago González Iglesias (2). Doelskop: Iglesias.

Meer oor:  Nollis Marais  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.